Website TemplatesJoomla TemplatesWeb Hosting
Overbergse leerders vertel stories deur kinderspeletjies (30.05.11)

Overbergse leerders deel herinneringe deur kinderspeletjies

MEDIAVRYSTELLING
Maandag 30 Mei 2011
Geen embargo

ʼn Groep van 225 graad-7 leerders van vier Overbergse skole het gedurende Mei 2011 ter viering van Museumweek ʼn opvoedkundige uitstappie na die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in die Paarl onderneem.  

altDie deelnemende skole was die Primêre Skole Kleinmond, Hawston, Die Bron (Stanford) en Blompark (Gansbaai).  Die leerders het by die Taalmonument op Paarlberg, by die Taalmuseum in Pastorielaan én by die dorpsmuseum, Paarl Museum, besoek afgelê.  Die koste van hul busvervoer is gedek deur die Taalmuseum se Borg-’n-bus-projek.  

Catherine Snel, kurator van die Taalmuseum, het gesê die doel van Internasionale Museumdag, wat wêreldwyd op die 18e Mei gevier word, is om erkenning te gee aan verskillende aspekte van erfenis.

“Vanjaar se tema was ‘museums en herinnering’ en die klem was op hoe gemeenskaplike herinneringe gedeel kan word én hoe museums hierdie herinneringe kollektief kan bewaar,” het Snel gesê. “Ons program het gefokus op kinderspeletjies en herinnering en was daarop gerig om bewaring onder leerders en opvoeders aan te moedig, om sodoende ʼn gevoel van identiteit en trots in elkeen se eie kultuur te bevorder.”  

Volgens Snel wou die museum daarmee ʼn platform skep waar kinders hul stories deur middel van speletjies kon vertel.  

Megan Ruiters, museumgids, vertel dat hulle ter inleiding met die leerders gesels het oor waar speletjies vandaan kom deur die konsep van mondelinge oorlewering te bespreek.

“Daarna het ons speletjies soos handeklapspeletjies gespeel. Die kinders was baie opgewonde oor hul deelname en het vertel dat hulle ook gereeld kring- en touspringspeletjies speel,” het Ruiters gesê. “Ter afsluiting het ons bespreek hoe ’n mens kinderspeletjies kan bewaar vir toekomstige geslagte.”

Ons besoekersboek getuig as volg: “Die boodskap was goed oorgedra” en “Dit was baie leersaam”.

Vir meer inligting oor die Taalmuseum se opvoedkundige programme, kontak Catherine Snel by tel. 021 872 3441 of Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien .  


Einde
Medianavrae kan gerig word aan Isabeau Botha/Amira Clayton by Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien of tel. 021 872 3441 / 076 017 6026.

 
Nuusbrief
Soekfunksie
facebooktwittet
tel: +27(0)21 872 3441