Website TemplatesJoomla TemplatesWeb Hosting
Leerders leer “speel-speel” met die Ongelooflike Resies (31.05.10)

Leerders leer “speel-speel” met die Ongelooflike Resies

MEDIAVRYSTELLING
Maandag 31 Mei 2010
Geen embargo

Die Ongelooflike Resies is pret én leersaam. Dit was die mening van die meer as 400 leerders en opvoeders wat aan dié skattejagspeletjie deelgeneem het, wat vanjaar vir ’n vierde keer ter viering van Museummaand deur Die Afrikaanse Taalmuseum en Paarl Museum aangebied is.



Graad 7-leerders van sewe skole van die omgewing het die twee museums gedurende Meimaand besoek om die gewilde opvoedkundige speletjie te speel. Dit het afgeskop met ʼn inleidende praatjie oor die tema van Museumdag, naamlik “museums en sosiale harmonie”, waarna die leerders onderverdeel is in kompeterende spanne van ses leerders elk.

Elke groep het vraelyste ontvang met sowat 70 vrae oor die twee museums se uitstallings. Al die groepe moet tegelykertyd wegspring en probeer om so vinnig as moontlik al die vrae korrek te beantwoord. Na twintig minute roteer die groepe sodat elke groep die geleentheid kry om beide museums te verken. Die wenspanne het heerlike eetgoed gewen.

Die vrae het gewissel van die verklaring van byname soos kêffie, tjops en tontrokkie tot hoeveel slawe destyds na Suid-Afrika gebring is. Leerders moes ook leidrade soos “iets wat tydens die Victoriaanse era gebruik was om dames se middellyf dunner te maak” en “dit lyk soos ’n vaas, maar mans het dit as ’n spoegbak gebruik” ontsyfer. Hulle moes ook artefakte soos Kaapse silwerware, ’n Kaapse Van der Stel stoel en ’n outydse platespeler opspoor. Sommiges het ’n stoel in plaas van ’n kierie gekies as die antwoord op “jy gebruik hierdie voorwerp om jou gewig te help dra as jy loop"!

Tussendeur het hulle geleer dat daar wel ʼn plek met die naam “Baardskeerdersbos” in Suid-Afrika bestaan, dat ons die woord “piesang” uit Maleis-Portugees geërf het en dat daar verskeie variante van Afrikaans bestaan.

Die deelnemende skole was Laerskole WA Joubert (Paarl), Drakenstein (Paarl), Rietenbosch (Stellenbosch) en die Primêre Skole Saron (Saron), Hillcrest (Wellington), PC Petersen (Kylemore) en Bakerville (Gouda).

Catherine Snel, kurator van die Taalmuseum, sê die Ongelooflike Resies is ’n wonderlike manier om kinders se siening te verander dat museums onvriendelike plekke is waar alles in glaskaste toegesluit is en jy aan niks mag raak nie.

“Die kinders onthou die inligting soveel beter, omdat dit op ’n prettige manier aangebied word. Dit skakel ook goed in by die kurrikulum, omdat die kinders in ’n span moet werk en oefen om te luister en te delegeer, asook om self bronne te soek.”

Elizabeth Bowes, gids van Paarl Museum, sê die doel van die program is om te kyk of leerders kriptiese leidrade kan baasraak en hulself met ’n kaart kan oriënteer. “Dit kan die leerders weer help met eksamens en toetse, omdat hul leer om met begrip te lees. Boonop leer hulle om meer verdraagsaam te wees en om instruksies van ’n leier te volg.”

’n Opvoeder, me Melanie Wolhuter, van Laerskool Drakenstein, het die museums in ’n briefie bedank vir “die oulike manier” waarop hulle leerders ontvang en besig gehou is. ”Hulle het die skattejag terdeë geniet en speel-speel nuwe dinge geleer.”

As gevolg van die gewildheid van die Ongelooflike Resies, sal dit voortaan op ’n permanente basis aangebied word. Skole kan daarvoor bespreek by 021 872 3441 (Die Afrikaanse Taalmuseum) of 021 872 2651 (Paarl Museum).

Einde
Medianavrae: Isabeau Botha by Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien of tel. 021 872 3441 / 076 017 6026.

 
Nuusbrief
Soekfunksie

facebooktwittet

cape-town-tourismalt-tourismpaarl-tourism

tel: +27(0)21 872 3441