Leerders bespreek taalkwessies op Internasionale Moedertaaldag
Dink julle dit is nodig dat ’n mens ’n ander inheemse taal moet kan verstaan en praat? Dink julle dit is belangrik dat hierdie tale beskerm word? Wat dink julle sal gebeur as ons net een taal bevorder ten koste van die ander?

Dít is die vrae wat 236 graad 8-leerders van die Sekondêre Skool Noorder-Paarl op 21 en 22 Februarie moes beantwoord tydens die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se program oor Internasionale Moedertaaldag, wat wêreldwyd op 21 Februarie gevier is.
Catherine Snel, kurator van die museum en monument, het gesê die doel van dié program was om inheemse tale te beskerm en die leerders aan te moedig om hul moedertale te praat. ʼn Taaloorlogkaart met verskillende sieninge oor ons land se verskillende inheemse tale en ʼn video van die Afrikaanse rymkletser Lee-ursus Alexander is ingespan om leerders by die gesprek te betrek.
Volgens Snel was die leerders, wat vier moedertale, naamlik Afrikaans, Engels, isiXhosa en isiZulu verteenwoordig het, besonder trots op hul moedertale en nie skaam om hul mening te gee nie. Die algemene indruk was dat hul moedertale deel van hul kultuur is en dat dit verkeerd is om tale te onderdruk.
“Dit is nogal oulik van ¬graad 8’s om so te dink.” Snel het egter erken dat daar gemengde gevoelens was oor die vraag of Engels deur almal gepraat en verstaan behoort te word.
Vir meer inligting oor die Taalmuseum se opvoedkundige programme, kontak Catherine Snel by die Taalmuseum by tel. 021 872 3441 of
Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien
.
- Internasionale Moedertaaldag is op 17 November 1999 deur die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (UNESCO) ingestel. Dié dag het ten doel om wêreldwyd veeltaligheid te bevorder en groter begrip en verdraagsaamheid jeens verskillende taal- en kultuurtradisies teweeg te bring. Die geskiedenis van die dag begin op 21 Maart 1948 toe die regering van Pakistan die taal Urdu tot die amptelike landstaal verklaar het. Inwoners van Oos-Pakistan, wat vandag as Bangladesj bekend staan, was baie ontsteld hieroor aangesien hulle moedertaal, Bengali, nie erken is nie. Hulle het protes aangeteken en op 21 Februarie 1952 het studente in die hoofstad, Dhaka, ’n provinsiale staking uitgeroep. Ten spyte van die vreedsame aard van die studente se protes het die polisie op hulle geskiet en enkele studente het omgekom. UNESCO het 21 Februarie dus verklaar tot Internasionale Moedertaaldag ter erkenning van en ter nagedagtenis aan dié gebeurtenis in Bangladesj.

