Geskiedenis deur die oë van die kind
'n Mondelinge oorleweringsprojek deur leerders van Hoërskool Wellington
As deel van ʼn opvoedkundige projek van die Afrikaanse Taalmuseum, het Hoërskool Wellington se graad 11-geskiedenisklasse die mondelinge oorlewering van hul dorp opgeteken. Hierdie opnames is verwerk tot ’n reisende uitstalling wat op nasionale Erfenisdag, op 24 September, by die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl bekendgestel is.
Die geleentheid, wat deur onderburgemeester Conrad Poole geopen is, is deur genooide gaste, waaronder opvoeders, leerders en verteenwoordigers van die Onderwysbestuurs-en-ontwikkelingsentrum (OBOS) bygewoon.
Die kurator van die museum, Catherine Snel, het tydens die opening gesê: “Deur hierdie projek word die stories van die gemeenskap nou vertel deur die oë van die kind. Mondelinge oorlewering gee ons juis ’n geleentheid om meer te leer van ons verlede en dit as ’t ware te herontdek. Daardeur word ons geskiedenis nou meer inklusief, omdat dit ook vir minderheidsgroepe ’n platform skep om hul stem te laat hoor.”
“Die twintigtal leerders wat aan die projek deelgeneem het, kan baie trots wees op hulle werk. Wie weet, dalk kom daar eendag ʼn groot historikus uit hierdie groep. Een ding is seker, van nou af sal hulle met ander oë na die geskiedenis en hul omgewing kyk.”
Die projek het reeds in Maart vanjaar afgeskop toe Snel ʼn driedaagse mondelinge oorleweringswerkswinkel vir die onderskeie klasse aangebied het. Die werkswinkel het gehandel oor die konsep en belangrikheid van mondelinge oorlewering, hoe hierdie erfenis bewaar kan word, asook oor die proses van onderhoudvoering.
Die leerders het gedurende die Junie-vakansie hulle navorsing gedoen, wat verskeie temas ingesluit het, waaronder die skool se geskiedenis (akademie en sport); mense wat ’n verskil gemaak het binne en buite die Wellingtonse gemeenskap; belangrike historiese gebeure; akademiese instellings; sportsterre; musiek (plaaslike groepe, individue en kerkgroepe); en kuns en kultuur.
Die leerders het inligting ingewin oor hulle skool se geskiedenis deur te praat met oudskoolhoofde, oudleerders en voormalige personeellede. Hulle het ook navorsing gedoen oor invloedryke persoonlikhede soos bv. Herman Bailey, voormalige burgemeester. Verder het hulle die geskiedenis van plekke en gebou gaan naspeur, waaronder die woonbuurt Mbekweni en die St. Albans-skool.
Die uitstalling is tans by Hoërskool Wellington te sien en sal oor die volgende paar maande reis na museums en skole in die omgewing.
Vir meer inligting, kontak vir Catherine Snel by tel. 021 872 3441 of e-pos navraag

