Website TemplatesJoomla TemplatesWeb Hosting
'n Uitdaging om byname op te teken (27.09.11)

'n Uitdaging om byname op te teken

“Ek vertel nie stories nie, ek ruil hulle uit.” Aan die woord is kontreistorieverteller Dirk van Schalkwyk.

Van Schalkwyk reis die wêreld plat om mense se stories, byname, spreuke en ander sêgoed op te teken én om dit met ander te deel;’n taak waarin hy met humor en deernis uitblink.

Soos op Erfenisdag by ʼn praatjie by Volksmond, die koffiewinkel by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl. Die klein groepie toehoorders het hom nie afgeskrik nie – hy pas immers dikwels sy vertelprogram aan om of 1 500 leerders of ’n paar inwoners van ’n plattelandse tehuis ewe lekker te laat lag.

Van Schalkwyk se entoesiasme oor ons ryk taalgebruik is aansteeklik, veral sy oproep aan oud en jonk om ons mondelinge erfenis te boekstaaf.

“Almal het sêgoed; skryf dit neer, bewaar dit. En skryf jou lewensverhaal – dis een van die kosbaarste dinge wat jy aan jou nageslag kan nalaat.”

Daarom word daar net op elke tweede bladsy in sy boeke gedruk; elke alternatiewe bladsy is vir die leser om sy eie gedagtes of stories te deel.

Van Schalkwyk,  ʼn gebore Namibiër, is ’n voormalige Hoofredakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) en het sy doktorsgraad oor die taal van die Rehobother gedoen. Hy beskryf homself as “’n motiveringspreker wat met humoristiese stories en interessante taalverskynsels die lag in mense terugsit”.

Dit is sy begeerte om “organisasies wat geld benodig met sy storievertellery te ondersteun om fondse vir hulle in te samel.”

Van Schalkwyk teken ook byname op. “Byname is besig om uit te sterf, dit behoort opgeteken te word.”

 * Die Afrikaanse Taalmuseum het besluit om Van Schalkwyk se uitdaging te aanvaar en stel dus ’n nasionale opname van byname bekend. Stuur gerus enige byname na faksnr. 021 871 1106 of Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien dit, of deel dit op ons Facebook-blad “Taalmonument (en Taalmuseum)".

* Van Schalkwyk se humoristiese boek Sê jou sê met ’n glimlag, en sy CD met sy komiese vertellings, Lag is medisyne, kan direk van hom bestel word. Kontak Dirk van Schalkwyk by tel/faks: 021 880 0708 / 082 820 3347 of e-pos

Enkele pittighede wat deur Van Schalkwyk opgeteken is:

  • ‘n Vrou in Langebaan sê: “ek is darem nog padwaardig, maar moet net nie my bonnet oopmaak nie”.
  • “So rustig soos ’n skoolbus sonder kinders”.
  • ‘n Student aan die professor wat hom vra om iets wat hy in die klas gesê het, te herhaal: “ek het ’n fotografiese brein en die negatiewe is nog nie ontwikkel nie”.
  • ’n Dronk mens is “onder die invloed van omstandighede buite sy beheer”.
  • Die kragtigste woord in Afrikaans is “nou” en nie “later”.
  • In Mamre sê hulle sy lyk soos ’n bord Sondagkos (‘n vrou met ’n bont rok).
  • Haar kind se naam is Oxford University Press (sy het dit in ’n boek gekry).
  • Hulle was so arm hulle het nie eens trane gehad om mee te huil nie.
  • Hulle was so arm hulle het niks kos gehad nie, hy het vir sy boeties wat huil uit die Kook & Geniet voorgelees.
  • Die pad na ’n vrou se hart: dis ’n sinkplaatpad / dit loop deur ’n blomtuin of die winkels.
  • In Namakwaland as dit lanklaas gereën het: “die veldjie is alweer verleë”.
  • ’n Petrolstasie se bord: “petrol – vars van die plaas af”.
  • In Gansbaai oor iemand se jokstories: “ek het geen geloof in boepensstories nie”.
  • “Hy lieg die leuen dood”.
  • “In baie lande ry mense sonder om te groet, in Suid-Afrika groet ons sonder om te ry”.
  • Op Malmesbury: “Daar’s nie vroumense in die hemel nie, hulle staan nog by die hek en gesels”.
  • Die drie seuns van ’n dokter se byname was Kiem, Serum en Swam.


 

 
Nuusbrief
Soekfunksie
facebooktwittet
tel: +27(0)21 872 3441