Website TemplatesJoomla TemplatesWeb Hosting
Die storie agter Volksmond Koffie- en Kuriowinkel (20.04.11)

Die storie agter Volksmond

MEDIAVRYSTELLING
Woensdag 20 April 2011
Geen embargo

Ons het met Elnette van der Bank, eienaar van Volksmond Koffie- en Kuriowinkel by die Taalmonument, gesels en ’n paar vrae aan haar gestel:

Die Van der Banks eet, leef en slaap Volksmond – hoe het julle by hierdie buitengewone plek betrokke geraak en wat geniet julle die meeste?

Ons het ʼn jaar gelede toevallig gehoor van die moontlikheid om die koffie- en kuriowinkel oor te neem. Ons gesin hou van vars lug en wou iewers in die buitelug gaan eet…dit was ʼn Sondag en oral was alles vol bespreek en toe eindig ons by die Taalmonument. Tydens ons kuier het ons verneem dat die koffiewinkel in die mark is. Daar was nie tyd om te dink of ons ʼn restaurant sal kán bestuur nie. Dit het geklink na ʼn groot uitdaging en ons moes onmiddellik besluit.

Om 363 dae van ʼn jaar oop te wees plaas baie stremming op jou gesinslewe. Daarom is die hele gesin betrokke by die winkel. Ons doen naweke alles saam. Terselfdertyd leer my kinders eerstehands wat ’n besigheid behels. Ek leer hulle alles – van voorraad, hoe om kliënte te hanteer en hoe om met geld te werk. Hulle help met alles, van koeldranke uitpak en skottelgoed was tot om die kasregister te beman.

Dit is ʼn voorreg om elke dag te kan werk by ʼn plek wat die mooiste uitsig het in die vallei. Elke dag ontmoet ons nuwe mense en deel ons met toeriste inligting. Dis interessant om te hoor waarvandaan toeriste kom en waar hulle gaan besoek aflê.

Waar kom die naam “Volksmond” vandaan en wat beteken dit vir julle? Wat is julle motto?

Ons het ʼn keuse gehad of ons die naam wil oorneem by die vorige eienaars of dit wil verander. Ek het dadelik van die naam gehou. Dit klink soos iets eie aan ons. Ons praat Afrikaans, ons taal waarvoor ons baie lief is en wat eie is aan ons. Ons maak huiskos – kos wat eie is aan ons.

Volksmond is die ideale plek vir enige spesiale geleentheid soos verjaardagpartytjies en familiebyeenkomste?

Ons kan binne die restaurant enige funksie aanbied vir groepe van 20 tot 35 mense. Ons het al ʼn wynproe vir toeriste, kerrie-en-rys-aande en sop-en-brood-aande in die winter, jaareindfunksies, spitbraai vir spesiale verjaardae, 'n 3-gang maaltyd vir 'n 40e verjaardag, ooievaars- en kombuistees, skons en tee vir bejaardes en koek en koffie vir mammas wat kinderpartytjies bywoon, aangebied. Vir spesiale funksies is ons na-ure oop. Ons bobotie, lasagne en slaai, gevulde pannekoeke en ontbyte is die gewildste keuses as groepe bespreek.

Gee asb. ʼn opsomming van julle spyskaart:

Ons is ʼn koffiewinkel, maar beskik ook oor ʼn dranklisensie. Ons fokus op ligte etes – die gewildste items op ons spyskaart is ons Monument-ontbyt, gevulde pannekoeke, broodjies en hamburgers. Vir die soettand is daar wortelkoek, gebakte kaaskoek en sjokoladekoek. Ons bak vars skons, en naweke bied ons ʼn ekstra bederf soos appeltert, souskluitjies of melktert. As jy ons winkel binnekom, gaan jy lus raak vir koffie, want die koffiekroeg kan jy nie mis nie. Kom sit en ontspan en geniet ʼn cappuccino.

Ons moet ook voorsiening maak vir die toeris wat nie baie tyd het nie, en daarom het ons ook wegneemkoffie en -cappuccino, gemmerbier, koeldrank en water én heerlike peuselgoed soos gemmerkoekies, beskuit, fudge, sjokolade en roomys. Ons adverteer buite op swart borde wanneer ons op iets spesiaals aanbied, bv. quiche en slaai of ontbytmuffins met groenvyekonserf.

Besoekers aan die volmaanpieknieks is mal oor julle heerlike, bekostigbare piekniekmandjies – wat sluit dit in?

Ons piekniekmandjies is baie gewild én baie bekostigbaar. Teen R150 kan twee volwassenes meer as genoeg eet - Ciabatta-rolletjies; ‘n verskeidenheid kaas en beskuitjies; soetrissiesous; gemengde kouevleis; hoender mayonnaise; ‘n Griekse slaai; vrugteslaai; iets soets; en water of vrugtesap. Ons verpak ook kaasborde met ʼn verskeidenheid van kasies en beskuitjies. Besoekers het ook die opsie om ʼn lekker yskoue bottel witwyn of vonkelwyn, of een van ons heerlike plaaslike rooiwyne, by te koop.

Vir die kinders is daar ‘n piekniekmandjie teen R40 wat ʼn geroosterde broodjie, vrugteslaai, jogurt, ʼn snoeplekker en vrugtesap of water insluit. Die kinderpieknieks kan ook aangepas word vir skoolgroepe. Ons het al kospakkies opgemaak vir hoërskoolleerders wat hamburgers verkies het.

Wat bied julle nog vir kinders?

Ons het so pas ʼn Volksmondjie spyskaart saamgestel vir kinders onder 12 jaar omdat ons ervaar dat al hoe meer klein kindertjies ons besoek, veral sedert ons ʼn heerlike speelparkie op die terrein ingerig het. Ontbyte, burgers, broodjies en skyfies is die hoofitems op dié spyskaart.

Julle bied ʼn groot verskeidenheid kurio’s en leefstylprodukte te koop aan, veral met ʼn Afrikaanse of ʼn Afrika-fokus – wat is julle top 10-verkopers?

Oor die afgelope paar maande het ons probeer om werklik ons kurio’s en leefstylprodukte uit te brei. Ons top produkte is poskaarte, boeke en dagboeke, magnete, sleutelhouers, Afrikaanse CD’s, monument aandenkings (bekers, T-hemde, voorskote, inligtingsboekies, penne en ʼn heruitgawe van Die Patriot), teelepels en produkte met Afrikaanse spreekwoorde en gedigte op.

Volksmond rig ’n vriendelike uitnodiging:

Ons wil graag hê dat mense by ons Koffiewinkel moet kom ontspan en die pragtige natuurskoon kom ervaar. Daar is selfs skaakborde geverf op sommige van ons buitenste tafels – vra gerus binne die winkel vir skaak- en dambordstelle om mee te speel. Besoekers kan ook hul kennis kom toets deur Afrikaanse Scrabble te speel, en vir die sportiewe mense is daar ook boules (Franse rolbal) beskikbaar.

  • Is u ’n Bolander wat graag gereeld by ons wil kom kuier? Spandeer R30 of meer by ons winkel en ontvang ʼn gratis toegangskaartjie vir u volgende besoek aan die Taalmonument.
  • Laai ons spyskaarte af

Ons sien uit daarna om besoekers van oraloor te verwelkom!

Groete

Elnette van der Bank
Eienaar
Volksmond Koffie- en Kuriowinkel
Tel: 021 863 2800
Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien

Einde
* Medianavrae kan gerig word aan Isabeau Botha by Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien of tel. 021 872 3441 / 076 017 6026.

 

 
Nuusbrief
Soekfunksie
facebooktwittet
tel: +27(0)21 872 3441