Website TemplatesJoomla TemplatesWeb Hosting
Dertig jaar bring groot verandering by Taalmuseum (03.05.10)

Dertig jaar bring groot verandering by Taalmuseum

MEDIAVRYSTELLING
Maandag 3 Mei 2010
Geen embargo

“Ongelooflik baie het oor die afgelope dertig jaar verander…” Aan die woord is Megan Ruiters, gids van die Afrikaanse Taalmuseum, wat in April die mylpaal van dertig jaar diens by hierdie instelling gevier het.

Eerstens het sy self gegroei van ʼn jong tydelike werker wat algemene take verrig het tot ʼn gekwalifiseerde terreingids. Vandag bied sy met gemak vir oorsese besoekers en groot skoolgroepe ʼn begeleide toer deur die museum aan. Sy is boonop die museum se gesondheidsverteenwoordiger wat praatjies rondom veiligheid en kwessies soos HIV/Vigs reël.

“Mense wat nuuskierig is oor wat hier in die huis gebeur het, moet kom inloer. Afrikaans het nou wel nie hier begin nie, maar dit is deur die toedoen van die GRA dat ons Afrikaans vandag vrylik kan praat. Veral die Paarliete moet bewus raak van hul eie dorp se geskiedenis – ons gaan altyd na ander plekke soos Kaapstad op uitstappies, maar ons ken nie eers al die interessante plekke in die geskiedkundige dorp waar ons woon nie!”

Tweedens het die museum self vernuwe en gegroei.

“Sjoe,” se Megan, “die museum het geweldig verander – toe ek hier begin werk het, het die uitstallings net uit swart en wit foto’s bestaan. Voorheen was die fokus meer op die huismuseum… die kleedjies was spierwit gestyf en daar was blomme op elke tafel en in elke hoek. Dit is belangrik dat die bydrae van die GRA steeds uitgebeeld word en mense stel byvoorbeeld baie belang in Gideon Malherbe se stamboom. Ek hou ook van wat ons vandag hier het, soos die boonste verdieping se interaktiewe uitstallings oor die herkoms en diversiteit van Afrikaans, wat interessant is vir kinders en grootmense. Almal sal dit baie geniet – dit is beslis nie vervelig nie!”

Derdens het die hedendaagse besoekers aan die museum, veral die jong mense, ʼn heel ander benadering tot die lewe.

“Ek geniet die vrae wat die kinders vra en veral die antwoorde wat hulle soms uitdink. Hulle is gewoonlik verstom daaroor dat die drukpers waarop die eerste Afrikaanse koerant, Die Afrikaanse Patriot, gedruk is, sonder elektrisiteit gewerk het en dat Gideon Malherbe, die destydse eienaar van die huis, nie ʼn televisie gehad het nie.”

Megan stem nie met die doemprofete saam dat Afrikaans ʼn gevaar loop om uit te sterf nie.

“Ek twyfel nie daaroor nie, want kyk hoe het Afrikaans reeds in die negentiende eeu in die stryd teen ander tale geseëvier. Dit is juis deels die rede vir die bestaan van die Taalmuseum… om julle in te lig oor wat in die verlede gebeur het en oor hoe foute van die verlede in die toekoms voorkom kan word.”

“Afrikaans sal nog lank lewe en bly groei juis as gevolg van die kinders se interessante nuwe woorde wat op die ou end in die woordeboeke opgeneem sal word. Ek vertel die kinders altyd van die bordjie met die woorde ‘I am a donkey’ wat destyds in die klas om die kinders, wat daarop aangedring het om Afrikaans te praat, se nekke gehang is en vertel hulle dan dat dit van hulle sal afhang of hul moedertaal sal voortbestaan.”

Megan beveel altyd aan dat besoekers aan die museum ook die monument en die dorpsmuseum, Paarl Museum, besoek, of om sommer ʼn daguitstappie te onderneem met ʼn piekniek by die monument of ʼn besoek aan Butterfly World of die slangpark net buite die Paarl.

Die museum se opvoedkundige programme is kurrikulumgebaseerd en spesiale programme word vir elke graad aangebied, wat ook ʼn werkskaart insluit. Spesiale geleenthede word op herdenkingsdae soos Internasionale Moedertaaldag en Wêreldonderwysersdag aangebied, asook tydens Museummaand in Mei, wanneer die Ongelooflike Resies in samewerking met Paarl Museum, die dorpsmuseum, aangebied word.

Om ʼn afspraak met Megan te maak vir ʼn begeleide toer van die Taalmuseum of vir meer inligting oor die museum se opvoedkundige programme, skakel 021 872 3441 of stuur ʼn e-pos na Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien .

Einde
Medianavrae kan gerig word aan Isabeau Botha by Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien of tel. 021 872 3441 / 076 017 6026.
 

 

 
Nuusbrief
Soekfunksie
facebooktwittet
tel: +27(0)21 872 3441