18 Junie: Internasionale Nelson Mandela-dag
Ons personeel het op Nelson Mandela-dag die Paarl Hospice se Butterfly House in Fairyland ondersteun. Die kleuters was mal oor die poppekas, terwyl die laerskoolkinders Paarl se geskiedenis op ’n toer vol pret ontdek het, met besoeke aan die Taalmuseum, De Poort Erfenissentrum en die Taalmonument. Die monument se tuiniers het ook ’n kruietuin by Butterfly House geplant.
Nelson Mandela het die Afrikaanse weergawe van hierdie gedig tydens die opening van Suid-Afrika se eerste demokraties verkose parlement op 24 Mei 1994 voorgelees.
Die Kind
Die kind is nie dood nie
die kind lig sy vuiste teen sy moeder
wat Afrika skreeu skreeu die geur
van vryheid en heide
in die lokasies van die omsingelde hart
Die kind lig sy vuiste teen sy vader
in die optog van die generasies
wat Afrika skreeu skreeu die geur
van geregtigheid en bloed
in die strate van sy gewapende trots
Die kind is nie dood nie
nòg by Langa nòg by Nyanga
nòg by Orlando nòg by Sharpeville
nòg by die polisiestasie in Philippi
waar hy lê met ’n koeël deur sy kop
Die kind is die skaduwee van die soldate
op wag met gewere sarasene en knuppels
die kind is teenwoordig by alle vergaderings en wetgewings
die kind loer deur die vensters van huise en in die harte van moeders
die kind wat net wou speel in die son by Nyanga is orals
die kind wat ’n man geword het trek deur die ganse Afrika
die kind wat ’n reus geword het reis deur die hele wêreld
Sonder ’n pas
- Ingrid Jonker
Laai 'n pdf af met die Engelse, Duitse en isiXhosa vertaling


