In ʼn era waar naamsveranderinge baie bespreek word, is dit noodsaaklik om na historiese naamgewing te kyk. ’n Belangrike Khoekhoen-woorderfenis kom voor in Suid-Afrikaanse plek, dier- en plantname.
Verskeie plekname is afgelei uit die aanwesigheid van sekere Khoekhoenstamme: Konakwasberg, Hessekwaskloof, Attakwasberge, Outeniekwaberge, Namakwaland, Obiekwaberge, Outenikwaland, Gamtoosrivier, Griekwaland, Griekwastad, Gouritsrivier en Sonkwasdrif. Die -kwa of -qua beteken “mense” of die “seuns van”.
Ook dorpsname soos Garies, Okiep, Komgha, Knysna, Kakamas en Prieska (“plek van die verlore bokooi”) kan na Khoekhoen teruggespeur word. Goudini beteken “bitter/wildeheuning/heuningbier”; Hantam is van “heyntame” (’n eetbare wortel Pelargonium bifolium) afgelei; Camdebo(s) beteken “groen holte/gat” (seekoeigat); Karoo (Caro is “hard/droog”); en Tsitsikamma (Citzij kamma is “waters begin”, wat verwys na die hoë reënval asook talle strome en riviere in die omgewing).
Water was belangrik vir die Khoekhoen en die woord vir water is //gami wat deur die koloniste verander is tot kama of kamma. Die woord word ook vir “rivier” gebruik. ʼn Groot aantal plekname met hierdie uitgang is deur ou reisigers opgeteken, byvoorbeeld Dagghakamma (Swartrivier, ʼn tak van die Botrivier), Gam Dachama (Steenboksrivier in Caledon-distrik), Gattikamma (!gatsi is “helder” en //gami is “water”, eens die naam van Klaarwater, nou Griekwastad) asook Nukakamma (beteken “grasserige water”, benede deel van Sondagsrivier).
Die Namakwa-woord vir rivier is !ab en is deur Europeërs verander na ka. So was daar die Geskarivier, ʼn tak van die Sonderendrivier in die Caledon distrik. Daar is ook Dwyka, Gamka, Kauka, Tarka, Kraggakamma, Goukamma, Tsitsikamma en Keiskamma. Streekname van Khoekhoen-oorsprong is Karoo, Goup, Kango, Goudini en Troe-Troe.
Dan is daar ook Khoekhoen-plekname wat direk vertaal is deur die koloniste, byvoorbeeld Warmbad (/Ai-//gams), Melkbospoort vir Guidaos (guib is melkbos en daos is pad/poort), Visrivier (//oub is vis) asook Buffelsrivier (/goab is buffel). Die Groot-Vetrivier in die Vrystaat is ʼn letterlike vertaling van die Koranna-naam Gei /Houb (gei is groot en /houb is pensvet). Gantouw of Candauw (!Kani is eland, daos is pad/poort) was later bekend as Elandspad, ʼn poort in die Hottentotshollandberge. Nawastana is nou bekend as Renosterkop (nawas is renoster en tanas beteken kop). Die Katrivier is Hunca genoem (afgelei van /hoas vir kat en !lab wat rivier beteken).
Diere waarmee die Khoekhoen in aanraking gekom het, word ook in pleknaamgewing gevind. Chamika, Gamka, Gamma, Gamkamma, Kamop, Khamlasas, Kamdaos en Khamis bevat almal die Khoekhoen gami wat leeu beteken. Kham / asas beteken leeufontein en Kamdaos is ʼn poort.
Al die Khoekhoen-name is beskrywend en vertel iets van die omgewing, die grond, bome, plante en diere. Voorwaar ʼn waardevolle (woorde)skat in Afrikaans.
Foto: Augrabies-watervalle in Noord-Kaap
Augrabies is afgelei van die Khoekhoen-woord Aukoerebis, wat “die plek van die groot geraas” beteken.
Bronne:
Suid-Afrikaanse Pleknaamwoordeboek PJ Nienaber Tafelberg Uitgewers 1972
Uit die geskiedenis van die naamgewing aan plante en diere in Afrikaans J du P. Scholtz Nasionale Pers 1941
ʼn Nuwe Geskiedenisatlas vir Suid-Afrika HC Bredenkamp en O van den Berg Edward Arnold en Book Promotions Kaapstad 1989