Taalmonument se laaste Volmaanpiekniek op die horison; gratis vir onder-18’s

Met die verdere verslapping van inperkingsreëls is dit tyd om die buitelug te geniet voor die winter se koms. Sluit dus by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se vriendelike personeel aan om hierdie somerseisoen se laaste Volmaanpiekniek op Saterdag, 27 Maart 2021, tydens ʼn heerlike aand op die beeldskone Paarlberg te vier.

Ter ondersteuning van die Sentrum vir Astronomiese Erfenis se projek om inheemse name vir volmane in Suider-Afrika te ontwikkel, word hierdie piekniek aan die Oesmaan gewy – dit verwys na die feit dat die oes van verskillende somergraansoorte in Suid-Afrika hierdie tyd van die jaar in volle swang is.

Dié pieknieks is baie gewild onder plaaslike inwoners én toeriste, wat veral die sonsondergang en pragtige naguitsig van die vallei geniet. Besoekers kan enige tyd tussen 17:00 en 22:00 piekniek hou op die groot grasperke en die monument, ʼn simboolgelaaide beeldhouwerk sonder weerga, besigtig. Gaste word aangemoedig om die omgewing te verken en het ook toegang tot veilige parkering, buitelug-speletjies, kinderspeelparke asook ’n skryfwerk-uitstalling (tans met nuwe Arabies-Afrikaanse werke).

Besoekers is welkom om hul eie piekniekmandjies en drankies (geen glas) te bring. Onthou warm klere en ʼn flits, asook ʼn masker. Sien www.taalmuseum.co.za/covid-19/ vir die spesifieke protokolle.

Toegang is R40 per volwassene, R10 vir SA studente en pensioenarisse, en gratis vir almal onder 18 jaar – getalle sal beperk word. Kaartjies is beskikbaar by Computicket of die hek, en geen besprekings is nodig nie. Jaarpermitte is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin (tans aangebied teen ʼn 20%-afslag), wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die Taalmuseum se geletterdheidsprojek vir kinders, en besoekers word versoek om ʼn nuwe of tweedehandse kinderboek te skenk.

Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Meer oor die Sentrum vir Astronomiese Erfenis by https://cfah.org.za. Die volgende Volmaanpieknieks begin in Lente 2021. DIE TAALMONUMENT EN TAALMUSEUM IS OOP VIR BESOEKERS.