Laaste Sterrekykpiekniek fokus op die kleurryke, glinsterende Juwelekissie

Kapenaars en besoekers sal die skitterende sterrehemel – spesifiek die kleurryke Juwelekissie-sterrebondel – van nader leer ken tydens die laaste somerpiekniek op Paarlberg op Saterdag, 21 Maart 2020. Dit beloof om weereens ʼn feestelike aand in die beeldskone omgewing te wees; boonop is ʼn pragtige sonsondergang en ʼn gratis begeleide toer van die ikoniese beeldhouwerk ingesluit én is die aand ten bate van ʼn goeie saak.

Besoekers kan die sterrehemel verken met behulp van Orion Observasie Groep (OOG) se lede wat graag hul kennis en teleskope gratis deel. Die tema is ‘Ruimte skattejag – kom vind die Juwelekissie’, want die fokus is op die Juwelekissie, ‘n oop sterrebondel styf ingedruk langs die Suiderkruis. Die Juwelekissie se verskillende kleure wat ‘n fees vir die oog is, is die eerste keer gevind deur sterrekundige Nicolas Louis de Lacaille terwyl hy waarnemings in Suid-Afrika gedoen het vir sy 1751-1752-katalogus oor die suidersterre. Die naam kom van die sterrekundige John Herschel se beskrywing: “…hierdie groep, hoewel nie ‘n groot of ryk ene nie, is tog ‘n buitengewone briljante en pragtige voorwerp wanneer dit deur ‘n instrument met voldoende skerpte waargeneem word om die verskillende kleure van sy samestellende sterre, wat dit die effek van ‘n uitstaande stuk sierlike juweliersware gee, te sien.”

Die pieknieks is baie gewild onder plaaslike inwoners en oorsese besoekers wat veral die mooie vergesigte van die valleie, berge en skiereiland geniet. Dit begin om 18:00, met ʼn begeleide toer van die monument om 18:30 waarna besoekers van 20:00 tot 22:30 deur die teleskope na die hemelruim kan tuur.

Gaste is welkom om hul eie piekniekmandjies te bring of een vooraf te bestel (R300 vir twee persone of R400 met ʼn mandjie ingesluit) by die koffiewinkel op 021 863 2800. Dit sal ook oop wees vir koffie en ligte verversings asook pizza. Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer. Onthou asseblief verkykers en warm kleding. Besoekers word aangemoedig om die omgewing te verken en daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders.

Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die Taalmonument se geletterdheidsprojek vir kinders, derhalwe word piekniekgangers versoek om nuwe of tweedehandse kinderboeke ter ondersteuning van dié projek te skenk. Die toegangsprys is R50 per volwassene en R10 per kind; kaartjies is by Computicket of die hek beskikbaar, maar bespreking (021 863 0543/4809) is noodsaaklik sodat daar vir genoeg teleskope voorsiening gemaak kan word. Sterrekykpieknieks sal helaas gekanselleer word indien die weer nie saamspeel nie – skakel 073 853 3100 of 083 544 6510 vir weernavrae. Voorafgekoopte kaartjies kan oorgedra of vergoed word.

Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument (en hul 45ste verjaarsdagvieringe in 2020), skakel 021 872 3441/863 0543, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die volgende Sterrekykpieknieks begin einde 2020.