Museumbewaring Taalmuseum

Maak jou mooi oudhede nog mooier
Taalmonument bied werkswinkel met gesiene restoureerder aan

Nes kunswerke moet antieke meubels ook herstel en bewaar word ter wille van hul (gebruiks)waarde. Ter ondersteuning van Suid-Afrika se erfenis bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) derhalwe ‘n Museumbewaring werkswinkel vir meubelmense – onder leiding van die gesiene oudhede restoureerder Emmeke van der Meulen – op 6 September 2018 aan. Hoewel die dag op die bewaring van museumversamelings, met die klem op die herstel van meubels en hoe om skade te voorkom, fokus, is dit nie net gemik op museumpersoneel nie. Dit sal ook leke touwys maak oor die basiese kennis wat hulle nodig het om hul versamelings te bewaar en herstel.

Van der Meulen het na sewe jaar se opleiding in antieke meubelbewaring, vergulding en polichromie in België gekwalifiseer. Sy het bewaringsmaatskappye in verskeie lande gestig, antieke meubelbewaring en -herstel aan die Universiteit Stellenbosch gedoseer en is dié deskundige oor antieke meubels vir die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap.

Van die aspekte wat bespreek sal word, is:
• Restourasiefilosofie
• Houtsoorte wat in Kaaps-Hollandse meubels gebruik word
• Oorsake van skade aan antieke meubels
• Museumgehalte herstelwerk teenoor kommersiële herstelwerk
• Bewaring en instandhouding

Die tweetalige werkswinkel vind vanaf 9:00 tot 16:00 in die konferensielokaal van die Taalmonument in Gabbema Doordriftstraat op Paarlberg plaas. Dit kos R300 per persoon, wat ‘n gratis besoek aan die monument asook koffie/tee en lekkernye insluit. Deelnemers kan hul eie middagete bring of die plaaslike restaurant ondersteun. Vir meer inligting oor Van der Meulen, sien www.studioantiques.co.za

Plekke is beperk, dus bespreek asseblief vroegtydig by Jeffrey Pietersen op 021 872 3441 of bemarking2@taalmuseum.co.za om deelname te verseker. Die ATM bied jaarliks ʼn reeks kursusse en werkswinkels aan wat fokus op die ontwikkeling van basiese vakkundige vaardighede. Vanjaar se program sluit onderwerpe soos boekherstelwerk, skryf van gedigte en stersirkelsfotografie in. Voorstelle vir bykomende werkswinkels oor soortgelyke onderwerpe is welkom. Sien www.taalmonument.co.za vir meer en volg ons op Facebook.