Hoewel ingeperk, bly die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se personeel oopkop vir nuwe kennis en vaardighede. Twee van hulle, Riana Dempers en Jeffrey Pietersen, het pas danksy Kaapstad Toerisme en CrescentRating die Halal Tourism Market Readiness-program voltooi.

Dié gratis aanlyn opleidings- en sertifiseringsprogram het bestaan uit verskeie modules rakende hierdie spesifieke toerismemark. Die onderwerpe het ingesluit hoe om jou instelling meer Halaalvriendelik te maak asook belangrike Arabiese begrippe en woordeskat om veral Moslem-besoekers uit Arabiese lande meer tuis te laat voel. Die gebruik van tegnologie, wat ook vir ander kultuurgroepe aangewend kan word, is ook uitgelig.