Die konstruksieverhaal, soos vertel deur die wie se handewerk dit is

Die Afrikaanse Taalmonument op Paarlberg is ’n unieke, statige beeldhouwerk van beton en graniet wat in 1975 ingewy is. Die idee om ’n monument vir Afrikaans op te rig, het reeds vroeg in die 1940’s ontstaan waarna die Afrikaanse Taalmonumentkomitee (ATMK) op ’n openbare vergadering in die Paarlse stadsaal gestig is. ’n “Oproep” is opgestel om die saak onder die aandag van die hele Suid-Afrika te bring en in 1964 is ’n kompetisie vir die ontwerp van die monument uitgeskryf. Die ontwerp van die argitek Jan van Wijk is as wenner aangewys waarna die bouwerk tussen Januarie 1972 en 1974 plaasgevind het. Buiten die geld wat oor die jare vir die projek ingesamel is, het die destydse regering ook ’n ruim bydrae gemaak.

Vyf-en-veertig jaar later weerklink Jan van Wijk se woorde steeds: “…want die tyd vir die rolspelers loop uit en netnou, netnou word die verhaal net verdigsel, eie vertellings en bespiegelings oor dit wat daar tydloos, datumloos teen die berg in die Paarl staan”. Hierdie dwingende woorde het nou ook gelei tot ’n mondelinge oorlewering-studie van die werkers, vakmanne en voormanne wat die Taalmonument gebou het. Vanaf 2016 is hierdie verhale opgeteken, wat nou onder meer gebruik sal word vir ’n nuwe uitstalling in die Besoekersentrum. Dit is ’n poging om die “onbekendes” wat dié grootse projek uitgevoer het, te huldig 45 jaar ná die opening van die monument. Die bouers se aandeel sal ook erken word deur die oorhandiging van ‘n “paspoort” aan hulle (of ʼn verteenwoordiger) wat die houer lewenslank gratis toegang tot die Taalmonument en alle aktiwiteite daar gee.

Maatskappye, ingenieurs, tekenaars, landmeters, bourekenaars…

Destyds was dit duidelik dat nie baie konstruksiemaatskappye kans gesien het om hierdie struktuur op te rig weens die uitdagende aard daarvan nie. Uiteindelik het Murray & Stewart (Boland) ingestem om ’n konsortium met die Paarlse bouers Holtzhausen en Hugo te stig – sodoende is A.T.M.-Konstruksiemaatskappy in die lewe geroep om die taak uit te voer.

Murray & Stewart was ’n Suid-Afrikaanse maatskappy wat sedert 1902 in die Kaap gevestig was; in 1966 het hulle ’n afsonderlike maatskappy in die Boland gevestig. Dié had hul eie kantoor en bouwerf in Alkmaarstraat, Paarl, met bykans 500 werkers, 200 ambagsmanne en 20 voormanne. Die maatskappy het ook ’n aandeel gehad in die opleiding van leerlingvakmanne in hul diens; van hulle wat by die monument betrokke was, het opleiding by die Athlone kollege en Groenfontein Kollege ontvang.

Ander firmas met noodsaaklike vaardighede is met verloop van tyd aangestel om spesifieke bydraes te lewer. Die raadgewende ingenieursfirma Van Wyk en Louw (deesdae Aurecon), onder leiding van dr Marius Louw, was verantwoordelik vir die beton en staal in die struktuur. Heinz Dullart (in Jan van Wijk se firma) het die werkstekeninge en modelle van verskillende dele van die struktuur gemaak om sodoende die bouaannemer te help om die bekisting te beplan. GA Marais en Vennote, onder leiding van mnr Christiaan Ferdinand Geyer, het meganies-elektriese ingenieursinsette gelewer, veral rakende die voetbeligting van die monument. Daar was ook die bourekenaars CP de Leeuw, Walden en Vennote, onder leiding van mnr Walden, wat ’n bestekopname (die voorsiene uitgawes) moes opstel – dit was nogal ’n uitdaging vir ’n ongewone struktuur soos dié monument.

Die landmeters Van der Merwe, Duxbury & Dunn, onder leiding van mnre Len van der Merwe en Ramsauer, het die taak gehad om die struktuur op die korrekte plek en in die korrekte verhoudings op te rig. Die meetkundige boë wat met behulp van skaalmodelle vasgestel is, is gebruik om die afmetings en vorms van die bekistingstukke te bepaal. Die Argiteksverteenwoordiger was mnr Paul le Roux, terwyl die ingenieur wat die koördinate en punte moes bepaal, mnr Piet Oosthuizen van Stellenbosch was. ’n Model van die hoofsuil is op Stellenbosch onder leiding van dr Nico Sauer deur die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) in ’n windtonnel getoets, waar bevind is dat dit ’n windsterkte van tot 160km/u sou kon weerstaan.

So, wie was die bouspan?

Vakmanne met gespesialiseerde kennis en ervaring is gekies om gestalte te gee aan hierdie ingewikkelde ontwerp. Die span het bestaan uit voormanne, tolke, vragmotorbestuurders, staalsnyers, staalvleggers, staalbuigers, skrynwerkers, hyskraanoperateurs, loonklerke, tydbeamptes, werktuigkundiges, bouers, messelaars, stoormanne, algemene werkers en nog baie ander.  Buiten plaaslike werkers, was daar ook kontrakwerkers van die voormalige Transkei wat in hostelle (White City) te Mbekweni gewoon het.

Mnr Gysbert Visser was die kontrakbestuurder tydens die projek. Ons het die voorreg gehad om tydens sy 90ste verjaarsdag ’n onderhoud met hom by die Taalmonument te voer voordat hy in 2018 oorlede is.

Mnr Victor (Vic) Hugo was die algemene voorman tydens konstruksie. Nadat alles uitgemeet is, moes die bekisting, metaalvleggery, steierwerk en gietwerk gedoen word. Een van die uitdagings was om die regte betonmengsel en afwerking te kry om aan die ontwerpsvereistes te voldoen. Vir dié doel is daar ’n betonpaneel-toets op die terrein self gedoen sodat daar uit verskillende mengsels van Paarlgraniet, sand en sement ’n keuse gemaak kon word om die finale tekstuur en afwerking van die monument te bepaal. Die bergrotse se tekstuur is nageboots deur die gladde oppervlak met spesiale lugdrukbore en spitshamers te verwyder om die graniet in die mengsel te ontbloot.

Die betonmengsel waarmee die monument gebou is, is in ’n voorafvervaardigde bekistingstruktuur gegiet. Die bekistingstelsel het uit vertikale metaalversterkers (die bouers het dit “soldate” of “ruggrate” genoem) met horisontaalgeboë pypstukke bestaan wat elkeen op die terrein gebuig is ingevolge die bepaalde kromming wat hulle verbind het. Aan die beton se sigkante is dit met skeepslaaghout uitgevoer. Mnr Jacobus Timothius (Jack) van Zitters het ’n bydrae gelewer tot die oplossing vir die spesifieke granietafwerking deur die oppervlak met spits- en lugdrukhamers te chip – dit het uiteindelik ’n besparing op die boukoste meegebring. Van Zitters is al oorlede, maar sy seun, mnr André van Zitters, kon sy verhaal aan ons vertel.

Skerp lemme vir bekisting

’n Hele aantal skrynwerkers was by die bekisting betrokke, onder andere mnre Abdurahmaan (Manie) Nackerdien, Ernie Williams, Isaac Lackay, Bernie Cupido, David Arendse, Isak Sendin, Charles Fortuin en Henna Cornelissen. Laasgenoemde was ’n vakman wat baie gesteld was op sy gereedskap en het self sy masjienlemme skerp gemaak, aldus sy eertydse kollegas. Lackay het aan ons vertel dat hy in 1968 as vakleerling by Murray & Stewart begin werk het en aanvanklik R18 per week verdien het. Ná die voltooiing van sy ambagopleiding, het hy R75 per week verdien. Hy het nie net gehelp met die bekisting nie, maar ook nóú saamgewerk met die landmeter wat die koördinate geneem het waarna hy die vlakke vir hom aangedui het.

Mnr Rodney Cyster het werk gekry om saam met die landmeter penne in te sit om aan te dui waar die bouwerk gedoen moes word. Hy was ook ’n skrynwerker wat later op die bekisting van die trappe en koepels gewerk het. Naas die skrynwerkers, was daar ook ’n hele aantal staalvleggers, staalbuigers, staalsnyers en pypbuigers in diens soos mnre Moegamat Joseph Benjamin, Jamiel Meyer, Japie Lindeman en Joseph Jafta.

Joseph Jafta was betrokke by die oprigting van steierwerk

Mnr Appolis Zwaan, ’n werktuigkundige, het in die werkswinkel gewerk en was behulpsaam met die opstel van masjiene wanneer die beton gegiet is deur te sorg dat die groot hyskraan en houer met beton goed werk. Daar was ook ’n kleiner masjiengedrewe hyser – hy moes sorg dat dit glad loop anders sou dit die giet van die beton negatiewe beïnvloed.

Mnr Noyitini Kaai Maquelana was ’n toesighouer vir die Xhosasprekende werkers wat met beton gewerk het. Kaai, oorspronklik van die Oos-Kaap en intussen oorlede, het by Murray & Stewart gewerk en op hul bouwerf in Alkmaarstraat verblyf gekry. Omdat hy Afrikaans magtig was, het hy ook as tolk opgetree. Hy het mnr Tom Siebrits (tydhouer) vergesel na die Oos-Kaap om werkers te haal; met hul terugkeer is die mans in die White City-hostelle in Mbekweni gehuisves. Sy seun, mnr Eugene Maquelana, het sy verhaal aan ons vertel.

Dompasse en kontant

Mnr Mntumni Shadrack (Kalassa/Shorty) Mbobo het ook vir Murray & Stewart (Boland) gewerk. Hy was aanvanklik ’n assistent-stoorman en het saam met mnr Johnny Ontong en Siebrits, onderskeidelik die loneklerk en tydhouer, gewerk. Siebrits (reeds oorlede) het die werkers se werkure vir Ontong gestuur sodat hy die lone kon uitwerk.

Mbobo het soms met staalvlegwerk en steierwerk uitgehelp; ander kere het hy as vragmotordrywer diens gedoen deur boumateriaal asook steierwerk aan te ry en soms was hy ’n algemene werker. Hy het ook, soos die ander werkers van Murray & Stewart, genoem dat hy in kontant betaal is. Hy het ons vertel van die passtelsel en van die hostelle vir kontrakwerkers van die voormalige Transkei, Ciskei en Bophuthatswana.

Onder apartheid moes swart werkers altyd hul pasboek – ook bekend as ’n “dompas” – byderhand gehad het; daarsonder kon hulle nie in sekere gebiede woon of werk nie. As iemand sonder ’n pasboek betrap is, kon so ’n persoon beboet, vervolg of na ʼn “tuisland” gedeporteer word. In Suid-Afrika was die pasboekstelsel ingestel om die bevolking ingevolge rasgroepe te skei, om verstedeliking so te bestuur en om trekarbeiders op die wyse toe te wys aan nywerhede – dit is eers in 1986 afgeskaf.

Vry van ongelukke en vertragings

Geen ongelukke is tydens bouwerk aangemeld nie en, hoewel die veiligheidstandaarde vandag baie strenger is vergeleke met die verlede, is dit tog duidelik op ou foto’s dat die bouspan veiligheidsbewus was en altyd helms gedra het. Die winterweer was ’n uitdaging en ten spyte van 26 dae wat weens slegte weer opgeoffer is, het alles ingevolge plan verloop en is die projek nie daardeur vertraag nie.

Die omstandighede waaronder die bouers gewerk het, was nie altyd aangenaam nie – veral nie vir die span van ses (later tien) mans wat aan die binnekante van die suile gewerk het nie. Hulle is heeldag deur digte stof omhul en die geraas van lugdrukbore en spitshamers was oorverdowend. Elkeen het nagenoeg ’n vierkante meter per dag só afgewerk. Die bouers moes hulle ook inwurm tussen bekistingswande om metaal te vleg en te buig. Dit was nat en koud en van hulle het siek geraak. Die wind was ook ’n probleem, só die bouers moes hul vastrap ken.

Nog ’n probleem was die berugte gruispad wat na die terrein gelei het. Dit was aanvanklik ’n onafgewerkte gruispad en was moeilik begaanbaar tydens die wintermaande wanneer die oppervlak só glibberig was dat vragmotors nie daarop kon ry nie.

Later is die pad opgegradeer na ’n teerpad, befonds en gebou deur die Afdelingsraad van die Paarl. Die padbouers was onder andere mnre Malcolm Austin, Gert du Toit, Hennie Havenga en Henry Swart. Austin het ons vertel hoe die pad gebou is en dat die koste meer as R200 000 beloop het.

Spanwerk en spaargeld

Ten spyte van die omstandighede en harde werk (of dalk danksy dit) was daar volgens die deelnemers aan die mondelinge oorleweringsprojek ’n baie goeie gesindheid onder die span. Teen November 1974 is die aftakeling van die steierwerk begin en teen 20 Desember was die bouwerk voltooi. Die kontrakprys (1972) vir die oprigting van die monument was R739 880, maar danksy goeie kostebeheer was daar ’n besparing van R21 821,21. Die bouspan het kostes bespaar deur onder meer ter plaatse ’n tegniek te ontwikkel om met spitshamers die aggregaat te ontbloot en om spesiale, duur hamerpunte vir die lugbore vir die afwerking met afval-Y10-staalstukke wat in lengtes van 60mm gesny is, te vervang.

Buiten die monument is daar ook ’n reservoir en ’n amfiteater opgerig, en was die totale boukoste – uitgesluit die terreinontwikkeling – R1 061 411,45.

  • Baie dankie aan al die geduldige vertellers, persone wat visuele materiaal aan ons verskaf het asook die personeel wat die onderhoude gedoen en aan die transkripsies gewerk het.
  • Indien daar bouers is wat ons oorgesien het of nie kon opspoor nie, kan hulle of hul families/vriende ons gerus kontak by 021 863 0543/872 3441 of navorsing@taalmuseum.co.za.
  • Help ons ook asseblief om die volgende persone op die onderstaande foto’s te identifiseer.

 ……………

Bronne:

Die Burger

Huisgenoot

Paarl Post

SA Builder-tydskrif

Foto’s verskaf deur Heinz Dullart en Human Naude

Jan van Wijk – Afrikaanse Taalmonument, Simbool van Afrikaans

Murray & Stewart –  Tegniek: Die Afrikaanse Nywerheidsblad Februarie 1975