Unieke ware én virtuele vertoning deels ten bate van plattelandse skool

Ter ere van Nelson Mandela-dag op Saterdag, 18 Julie 2020, gaan die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in samewerking met Psychedelic Theatre ʼn eksklusiewe fees van vlamme, vuur en natuur vir 50 gelukkige gaste aanbied. Hoewel die ATM nog tans vir die publiek gesluit is, sal dit spesiaal geopen word sodat die grasieuse vuurdansers en hul verskeie vlammende voorwerpe die gehoor vir 67 minute met asemrowende vuurtoertjies, musiek en choreografie kan betower. Boonop sal ʼn pragtige video hieroor later vandeesmaand beskikbaar wees vir ʼn virtuele vertoning wat enigiemand vanuit die gerief van hul huis kan bekyk, en is ʼn deel van die opbrengs ten bate van ontsmettingsmiddels vir Rondeheuwel Primêr, die skool in Hermon wat deur die Taalmonument ‘aangeneem’ is.

Dié inisiatief skakel in by die dag se doel om individue te inspireer om die wêreld ’n beter plek te maak deur 67 minute van hul tyd af te staan om ’n verskil in iemand se lewe te maak. Volgens die ATM se direkteur, Michael Jonas, sal daar ʼn intieme ter plaatse én virtuele vertoning te hou sodat mense in hierdie uitdagende tye van Covid-19 veiliger bly en terselfdertyd vermaak word. “Terselfdertyd kan jy weet dat ʼn deel van jou finansiële bydrae ʼn verskil vir die kinders sal maak. Boonop help dit hierdie vertoners wat só gewilde attraksie by die monument is en laat dit ons almal tog voel asof dinge normaler word,” sê hy.

“Ons onlangse aanlyn-webinaar oor Kaaps, Jeugdag musiekkonsert, koronavirus-skryfkompetisie en Groen Galery-uitstalling oor die ‘Bybel in Kaaps’ is almal baie goed op sosiale media ontvang, maar ons wil graag ook weer geleenthede by die ATM aanbied wat mense na die beeldskone vergesigte en buitelug lok. Uiteraard gaan ons voort met ons virtuele aanbiedings sodat die monument en museum soveel moontlik mense wêreldwyd bereik.”

Lanél van der Kolff, aktrise en stigter van die Psychedelic Theatre, asook haar talentvolle mededansers se waaghalsige toertjies en storievertelling sal jou sensoriese stimuli verryk, want die visuele voorstelling wissel van fisieke teater tot interaktiewe vuurspel wat jou na ʼn ander vlak van teaterervaring sal meevoer. Om ʼn idee hiervan te kry, sien hul vorige optredes by onder meer www.facebook.com/afrikaansetaalmonument/videos/2104223876308787/

Die vertoning op Saterdag, 18 Julie 2020, begin om 18:30 en kos net R100 per persoon. In terme van die huidige koronavirus-maatreëls, sal slegs 50 gaste toegelaat word en moet almal maskers dra. Alle nodige voorsorgmaatreëls sal by die monument geld, onder meer die meet van temperature en gebruik van ontsmettingsmiddels, en enigiemand wat enigsins siek voel, word versoek om tuis te bly. Belangstellendes moet vooraf bespreek en elektronies betaal deur Jeffrey Pietersen op bemarking2@taalmuseum.co.za of 021 863 0543/872 3441 te kontak. Onthou warm klere en komberse, en voel vry om ʼn piekniekmandjie en drankies (geen glas) te bring. Helaas sal geen spys en drank verkoop kan word nie.

Die virtuele Dans van die Vlamme vind aanlyn vanaf 31 Julie 2020 van 18:30 via https://tickets.computicket.com/ plaas en kan op ʼn rekenaar, tablet of slimfoon gestroom word. Tot en met die aanvangstyd, kan kaartjies teen R50 aanlyn gekoop word (ʼn eenmalige koopbewys en PIN sal verskaf word), dus meer as een persoon kan saam na die vertoning kyk. Dit sal tot en met 31 Augustus vanjaar op Computicket se webtuiste beskikbaar wees, maar diegene wat verslaap het, kan steeds ʼn koopbewys tot en met 30 Augustus 2020 aanskaf. Indien enige tegniese of ander probleme ondervind word, kontak info@computicket.com of gebruik die aanlyn-boodskapdiens.

Vir verdere inligting oor hierdie en ander geleenthede wat deel uitmaak van die ATM se 45ste vieringe, skakel 021 863 0543/4809 en (0)71 500 8740 (selfoon slegs tydens werksure) of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument. Laasgenoemde het ook skakels na die gratis virtuele geleenthede wat die ATM sedert die inperking aangebied het.