As deel van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se missie om histories gemarginaliseerde Afrikaans variëteite en lankvergete leefwyses, vervat in talle volksoorleweringe (folklore), op te teken, is die instelling sedert 2008 hard besig met die Noord-Kaapse mondelinge oorleweringsprojek. Daarom is ons verheug om nou in totaal 36 videogrepe van die mense wat hierdie verhale met ons gedeel het, aan die groter publiek beskikbaar te stel. Luister gerus na hierdie unieke verhale – in pragtige, oorspronklike Afrikaans – op die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se YouTube-kanaal hier.
STEMME EN STORIES UIT DIE NOORD-KAAP: Die waterslang
Die Noord-Kaap se mensegeskiedenis strek oor duisende jare, maar die natuurlike en kulturele landskappe is nog altyd onlosmaaklik verweef. Daarvan getuig talle argeologiese vondse en rotskuns in die provinsie. Historiese bronne oor die Noord-Kaap vertel ʼn storie van ʼn afgeleë streek, van droogtes en swaarkry, Khoisan en trekboere, strooptogte en veediefstal, jagekspedisies en ivoorhandel, die Britse oorname in die 1840’s en gevolglike inlywing by die destydse Kaapkolonie, die ontdekking van minerale, die Anglo-Boereoorlog en later grotendeels die einde van die oorspronklike leefwyse van die inheemse inwoners.
Van die stories wat in die Noord-Kaap aangetref is, sluit onder meer verhale van die waterslang in. Hierdie stories, ook bekend as volksgeloof, is wat mense as die bonatuurlike wêreld ervaar en tog as werklik beskou. Diep in die menslike natuur is daar die behoefte om te begryp dat daar magte is wat op een of ander manier invloed uitoefen op ons bestaan. In Suid-Afrika is daar in volksvertellings ʼn duidelike gevoel van geeste wat in ons ‘binnewaters’ woon. Een hiervan is die wydverspreide opvatting dat haas elke belangrike rivier, waterpan en kuil op sekere tye van die jaar slagoffers eis. Stories vertel van watergeeste wat voorkom in die vorm van watermense en waterdiere, in die besonder waterslange. Die waterslang is geen gewone slang wat in die water woon nie, maar ʼn mitologiese slang met besondere magte.
Ingevolge die volksgeloof kom daar ʼn wye verskeidenheid watermense of halfmense in die Suid-Afrikaanse waterbronne voor. Eerstens kan meerminne genoem word – daardie wesens met die bolywe van pragtige meisies en die onderlywe van visse. In vroeë Afrikaanse publikasies en geskrifte word daar reeds melding hiervan gemaak. So skryf ‘Jan wat versies maak’ in 1879 oor die meermin: “Half mens en half vis, sou daar waarlik so iets bestaan? Hulle vertel dit wel, maar ek glo dit nie, kinders! Hulle wil sê, die ding hou in die seë en party riviere. Op ʼn sekere tyd kom sy uit om haar hare te kam, en sy kan so mooi sing ook. Hulle noem dit ʼn meermin. En nog ʼn hele boel stories vertel hulle daarby. Maar wat seg Horak?” In die volksgeloof word daar onder meer verwys na watermeisie, waternoointjie, waterheks, fonteinmeisie en kaaiman.
Van die nie-menslike watergeeste is die waterslang – ʼn mitologiese slang van buitegewone grootte met besondere kragte – die belangrikste. Daar is die waterslang met ʼn (diamant)steen op die kop (oftewel die Gekroonde Slang), die waterslang sonder ʼn steen en die Grootslang wat in die Garieprivier/Oranjerivier of een van sy vernaamste takriviere woon, ook bekend as die Slang van die Grootrivier of die Grootslang van die Oranje. Daar is ook waterslange in ander gedaantes, soos die wateroubaas of waterbaas, fonteinslang en slange wat eintlik aardgeeste is, maar tog soms aan die water verbind word, soos byvoorbeeld die dassie-adder. Die gewone waterslang (sonder die steen) word ook nog van die sogenaamde Blêrslang (ʼn slang met ʼn vlek op die kop) onderskei, maar dikwels daaraan gelykgestel. Hierdie waterslang is ʼn gevaar vir wie ook al naby hom kom deurdat hy sy slagoffer maklik in die water intrek. Soms lok die waterslang sy prooi/slagoffer deur nes ʼn bok of skaaplam te blêr, vandaar die naam Blêrslang. Al hierdie waterslange beweeg ook op die land rond om slagoffers te soek.
In die Noord-Kaap is daar ʼn aantal waterslangstories opgeteken tydens die veldwerk wat die ATM gedoen het. Stories vanuit Tweerivier-omgewing meld dat mense die Grootslang, in lig gehul, gesien het; sommiges meld dat die slang ‘wei’ en dat die slang die lig afhaal en neersit wanneer hy ‘wei’. Die slang is volgens een verteller vaal van kleur, sy neusgate is groot, hy is so dik soos ʼn houtstomp en 25 voet (7,5m) lank én kan blykbaar van gedaante verander. Dié verteller meld dat daar eens 25 mense op kommando gegaan het om die slang te gaan vasdruk in ʼn kloof.
Soms kan mense die slang ruik; Manus Pumidie van Tweerivier vertel byvoorbeeld van die vreeslike stank wat met die waterslang verbind word. Talle stories verwys ook na ʼn diamant wat die waterslang op sy voorkop het. Die waterslang hou ook van mense met moesies (iemand met moesies het uit vrees vir die slang weggetrek!) en kan mense visioene laat sien. Die slangstories speel af by riviere, fonteine en selfs ʼn waterval. Die slang trek mense in die water in en voer hulle dan klei. By Soebatsfontein, so lui die storie, het twee vrouens gaan wasgoed was by ʼn fontein… een oomblik was daar nog water, maar die volgende oomblik is die water weg en net twee groot neusgate, soos dié van ʼn perd s’n, sit onder in die gat en gee ʼn harde snork! Dit was die Grootslang en die wasvroue het laat spaander. Van die storievertellers meld ook dat daar ʼn mistigheid opkom rondom die fontein waar die waterslang woon of waar hy beweeg.
In die Klein Karoo is daar baie stories oor die watermeisie – half mens, half vis – wat in riviere of strome woon. Die stories dui op ʼn ooreenkoms tussen die teenswoordige storievertellers en die /Xam (San) storievertellers van meer as ʼn eeu gelede. Die /Xam het verwys na water, dood en ʼn gevoel van onderwater wees as deel van ʼn sjamaan se ervaring tydens beswyming – hierdie ervaring word ook in rotskuns uitgebeeld. By die /Xam se afstammelinge in die Noord-Kaap en in die Klein-Karoo word ʼn verband getref tussen die gevoel van swem en onderwater gaan (in ʼn watergat) en ʼn sjamaan wat die bonatuurlike wêreld betree. Hierdie stories ontspring uit eeueoue gebruike en gelowe.
Interessant is die waterslangstories wat reeds in vroeë Afrikaanse tekste voorkom. Dat die gekroonde slang stories reeds van vroeg af aan die Kaap bekend was, blyk uit die reisiger Peter Kolbe se verklaring dat daar omstreeks in die jaar 1704/5 saans ʼn helder lig op Tafelberg was wat deur die Kapenaars aan die karbonkel of kroon van ʼn slang toegeskryf is. In ‘Ons Klyntji’ van April/Junie 1896 word berig oor die ou geloof dat besit van die steen van die Gekroonde Slang oneindige geluk meebring. Treffend is die beskrywing van die slang se verligte steen, waarskynlik gebaseer op die volksgelowe van destyds. Die Gekroonde Slang staan onder ʼn groot verskeidenheid name in verskillende dele van die land bekend, byvoorbeeld Diamantslang, Slang-met-die-steen, Slang-met-die-kroon, Steendraer, Sterslang, Juweelslang en Gifsteenslang.
Die Grootslang (Grootslang van die Oranje of Slang van die Grootrivier) het tot heelwat vertellings aanleiding gegee. Hierdie slang kan glo met of sonder ʼn steen wees, goedaardig of boosaardig, en van gedaante verander. In ‘Ons Klyntji’ van Mei 1900 verskyn ʼn artikel, blykbaar deur die redakteur ds SJ du Toit geskryf, waarin die Grootslang, soos oorvertel aan hom deur mense naby die Oranjerivier, vermeld word.
Daar is ook verhale van die Fonteinslang wat beskryf word as groen of vaal van kleur. Hy wei rondom ʼn fontein en verander gedurig van voorkoms sodat jy hom min te siene kry. Wanneer die slang van een fontein na ʼn ander trek, is daar miswolkies of reën. Die slang kan ʼn fontein laat opdroog of met water vul – moet hom dus nie doodmaak nie. In sommige streke word die naam Waterbas aan die Fonteinslang verbind. Dalk is die woord ʼn vervorming van die woord ‘Waterbaas’. Daar kom ook ʼn rits waterdiere en watergeeste in ons volksgeloof voor, soos waterperde, waterbobbejane, waterbeeste, roerdompe en in besonder die waterbulle (onder die San en in hul rotskuns). Van hierdie verhale is dikwels as paaiboelies aangewend word om kinders van gevaarlike waterbronne weg te hou.
Uit die beskrywing van die vernaamste eienskappe van die Grootslang van die Oranjerivier is ooreenkomste sigbaar met soortegelyke waterslange en verwante skepsels onder die Khoesan-groepe van Suider-Afrika, byvoorbeeld die Griekwas, Namas, Damaras en die Basters. Met die verloop van tyd en omstandighede en wat ook ʼn noue verband het met die ontstaan van Afrikaans, kan die afleiding gemaak word dat die waterslang, wat in die Afrikaanse volksgeloof gevestig geraak het, dieselfde slang is wat in die rites en verhale van die Khoesan voorgekom het en tot vandag toe nog verskyn. Wanneer die besondere grootte en die steen of kroon of selfs horings op die voorkop in ag geneem word, dan kom allerlei ooreenkomste met ander Suider-Afrikaanse waterslange na vore.
Hoewel dit nie moontlik is om vaste oorspronge van elke tipe waterslange na te gaan nie, is daar tog heelwat inligting beskikbaar danksy studies van antropologie en volksoorleweringe. Uit die omskrywings blyk dit dat die mitologiese en godsdienstige impak onbetwisbaar is – tot vandag toe.
Luister gerus na hierdie unieke verhale – in pragtige, oorspronklike Afrikaans – op die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se YouTube-kanaal hier.
Dorpe en vertellers:
Tweerivier (Gertruide Klaasse, Kaatjie Sophia Beukes, Manus Pumidie, Sophia Beukes, Timoteus Cloete, Nicolaas Makatees)
Paulshoek (Pieter Dirkse, Johanna Willems, Karel Joseph)
Petrusville (Daphne Seherrie, Johan van der Walt, Maria Wilson, Regina Seekoei)
Hopetown (Edwin Brian Visser)
Marydale (John Westley Plaatjies)
Soebatsfontein (Dina Mentoor, Dirk Steenkamp)
Nourivier (Anna Brand)
Leliefontein (Jacques Ruiters, Johannes Cloete)
Klipfontein (Hendrik Koordom, Jakob Saul, Jan Klaase)
Kamieskroon (Anna van Zyl, Katriena Adams, Frikkie Cloete, Magrieta van Wyk)
Garies (Willem van Wyk)
Kharkams (Charlotte Cloete, John E. Honeman)
Bronne:
Water, Stone and Legend Rock Art of the Klein Karoo 2011 – Renee Rust & Jan van der Poll
Waterslangverhale in en rondom Afrikaans: ʼn Ondersoek na mitisiteit as basis vir vergelykende literatuurstudie. Proefskrif voorgelê in 1999 – Jean Lombard
Die Afrikaner en sy Kultuur 1977 – P.W. Grobbelaar
Die Afrikaanse Volkskultuur 1960 – Abel Coetzee