Taalmonument se Groen Galery skitter en skater met gedigte

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) is verheug om kreatiewe kragte met Versindaba, ʼn webblog vir die Afrikaanse digkuns, te snoer om hul 2021 Mont du Toit Kwatrynkompetisie se wenkwatryne en kortlysinskrywings in die Groen Galery uit te stal. Hierdie tydelike uitstalling plaas die kollig op die drie wenners, Daniel Hugo, Herman Wasserman en Alwyn Roux, asook die werke van 17 ander deelnemers wat die kortlys gehaal het.

Volgens Michael Jonas, ATM direkteur, is die instelling ʼn lewende monument waar daar gedurig ʼn interaksie tussen die struktuur, natuur, besoekers en taalskeppers is. “Die meeste besoekers is nie net baie geïnteresseerd in die geskiedenis van Afrikaans nie, maar ook nuuskierig oor die taal se ontwikkeling en haar jongste skeppende gedaantes aangesien dit nuwe perspektiewe op die bestaanswêreld van Afrikaanssprekende Afrikane bied,” sê hy. “Noudat die instelling heropen is en besoekers terugkeer, beskou ons dit as ʼn gulde geleentheid om ons e-besoekers én fisieke gaste met nuwe, aweregse kwatryne te vermaak.”

Versindaba het vroeër vanjaar meer as 200 inskrywings vir die kompetisie ontvang en uiteindelik is die keuse van wenners op grond van tegniese vaardigheid gemaak. Een van die vernaamste eienskappe van die Persiese kwatryn is immers die streng dissipline wat dit van die digter vereis. Die Persiese kwatryn, ook Rubāʿī” genoem, is ʼn strofe met vier reëls wat ʼn volledige gedig verteenwoordig. Die eerste drie reëls dien gewoonlik as inleiding tot die laaste reël wat die kern van die kwatryn bevat. Die inhoud is bondig en geestig en druk dikwels universele wysheid uit, maar kan ook hedonisties in sy wêreldbeskouing wees met ʼn tipiese onderliggende carpe diem-filosofie. “Dit is ook wat ons gesien het met inskrywings wat alle verwagtinge oortref en vanuit alle oorde gekom het,” het die beoordelingspaneel, wat uit proff Joan Hambidge, Marlies Taljard, dr Stefan van Zyl en me Nini Bennett bestaan het, opgemerk. “Ofskoon almal nie gewen het nie, kan elke digter verseker wees dat sy/haar bydrae deur baie lesers geniet is en daartoe bygedra het om die Covid-19-pandemie vir baie van ons effens draagbaarder te maak.”

Die inskrywings wat die kortlys gehaal het, sluit die werke van Annora Eksteen, Anton Dockel, Anzé Bezuidenhout, Cecilia Steinberg, Driekie Grobler, Elmarie van Kampen, Fanie Olivier, Hannes Visser, Helize Janse van Vuuren, Ilse van Staden, Marieta McGrath, Pirow Bekker, Reinet Thiart, René Bohnen, Ronel de Goede, Thomas Deacon, Waldemar Gouws in.

Die argitek van die monument, Jan van Wijk, het sterk gevoel oor die natuur en daarom word hy vereer deur dié buiteluggalery waar sy as in ’n rots ingemessel is, knus omring deur inheemse olienhout en graniet. ʼn Uitstalling van veral opkomende Afrikaanse skrywers word elke paar maande in dié galery se uitstalkaste van herwonne hout en glas aangebied om hiermee op die monument se kulturele én natuurlike aspekte te fokus.

Sien www.taalmuseum.co.za/groen-galery/ vir die huidige en vorige uitstallings, en www.versindaba.co.za vir meer oor dié webblog wie se missie dit is om nie net die stand van die Afrikaanse digkuns soos dit tans daaruit sien, te reflekteer nie, maar ook om by te dra tot die breër ontwikkeling daarvan.

Vir meer inligting oor al die opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. DIE TAALMONUMENT EN TAALMUSEUM IS OOP VIR BESOEKERS – TANS GRATIS TOEGANG VIR KINDERS ONDER 18. Jaarpermitte (tot 30 November teen 20%-afslag beskikbaar) kos R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.