MEDIAVRYSTELLING

27 Oktober 2015

Leerders skryf skerp

Meer as ‘n 100 leerders het deelgeneem aan die vyfde Skerpskryf in Afrikaans-kompetisie vir graad 10-, 11- en 12-leerders van Drakenstein. Dit word jaarliks deur die Hugenote Gedenkskool in Dal Josafat in samewerking met die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl aangebied. Die Hugenote Gedenkskool was die eerste skool in Suid-Afrika waar kinders amptelik onderrig in Afrikaans ontvang het.

Volgens Janine Brown, opvoedkundige beampte van die ATM en Skerpskryf-organiseerder, is die doel van die kompetisie om leerders se kreatiwiteit te stimuleer deur storielyne rondom sekere temas te ontwikkel en te skryf.

“Die kompetisie is tot voordeel van elke leerder wat in Afrikaans skryf en help om belowende jong skrywers in Afrikaans te identifiseer.”

Vanjaar moes leerders ‘n gedig skryf van tussen 10 en 30 reëls – oor hoe hulle Afrikaans praat of liefhet of hoe hulle vriende of ouers dit praat of net oor hoekom hulle van Afrikaans hou en wat hulle van Afrikaans dink. Oor die vorige vier jaar moes hulle onderskeidelik ‘n nuusartikel, ‘n rubriek, ‘n nuusberig en ‘n resensie skryf.

Die 30 finaliste en hulle onderwysers is genooi word om by die prysoorhandiging by die Hugenote Gedenkskool deel te neem aan ‘n gespreksessie met die joernalis en skrywer Jean Oosthuizen en die digter Gaireyah Fredericks.

Vanjaar se algehele wenner was Ayden Kruger (graad 11, Hoër Meisieskool Paarl). Railene Nel (graad 11, Hoër Meisieskool La Rochelle) het die prys vir taalgebruik gewen en Charl Eksteen (graad 11, Hoërskool Gimnasium) die prys vir kreatiwiteit. Danté Naude (graad 10, New Orleans Sekondêr) het eervolle vermelding ontvang.

Wenners sowel as skole wen lekker pryse. Die algehele wenner kry R1 000 kontant plus ’n koopbewys vir R1 000 vir ’n Afrikaanse boek. Die twee wenners in die kreatiewe en taalkundige afdelings wen elkeen R500 kontant plus ’n koopbewys vir R500 vir ’n Afrikaanse boek. Elkeen van die drie skole van die drie wenners ontvang ook ’n koopbewys van R1 000 vir ’n Afrikaanse boek. Die opvoeder of persoon wat die wen-inskrywing aangemoedig het sowel as die onderwyser wat die meeste inskrywings instuur, kry elkeen R500.

Hiermee Ayden Kruger se wengedig:

Afrika(ans)

my taal is so bar soos die vissermanne

wat laster oor die gedruis van branders

my taal is so sag soos die donker vrouens

wat mekaar se hare in koringrye vleg

my taal is so skerp soos ’n bende-leier se mes

so eerlik soos ’n ou gestremde se drome,

so hard soos die eelte op ’n straatkind se voete

 

my taal is die helder kleure van Afrika-vrouens se krale

die weggegooide KFC-bokse vol hoenderbene

die reënboog-weerkaatsing van oliekolle op natgereënde strate

 

my taal jubbel en mompel en hakkel en bulder

my taal is ’n boer, ’n tuinjong, ’n hoer, ’n huisvrou

my taal is so knus soos ’n laslappiekombers

so verslawend soos ’n sigaret

so soet soos ’n blikkie kondensmelk

my taal verwoes en troos en breek en koester

my taal is grof en vars en wys en teer

 

my taal is Afrika

Afrikaans