boekherstel book repair 2017 taalmonument

Boekherstelspesialis Peter Packery bied van 5 tot 7 Junie 2017 ‘n inleidende kursus oor die herstel van ou hardebandboeke by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl aan. Packery het meer as 40 jaar ervaring in boekherstel en -bindwerk, insluitend die herstel van uiters waardevolle boeke. Hy was voorheen by die Suid-Afrikaanse Biblioteek se restourasiedepartement betrokke en het vir 26 jaar sy eie boekherstel-en-bindbesigheid bedryf.

Geen vooraf kennis word vir die driedagkursus benodig nie. Dit word tweetalig aangebied. Die inhoud sluit in: werkprosedures; bindstyle; Japannese en Westerse papier; greinrigting; die dele van die boek en die konstruksie daarvan; bladsyherstelwerk en invoeging van los bladsye; kleefstowwe; boekrugherstelwerk; en herstel van skutblaaie.

Die kursus kos R1 500 per persoon en vind van 09:00 tot 16:30 in die Konferensielokaal in die Besoekersentrum by die Taalmonument plaas. Eie gereedskap (waaronder ‘n beenmes) kan gebruik word of ‘n stel kan teen R200 aangekoop word. Koffie of tee is ingesluit, maar deelnemers moet sorg vir hul eie middagete (of vir Volksmond Koffiewinkel ondersteun).

‘n Gevorderde boekherstelkursus, wat fokus op gevorderde tegnieke soos leerbind- en bladgoudwerk, vind plaas van 16 tot 18 Oktober 2017. Dit is geskik vir deelnemers wat reeds basiese boek- en papierherstelwerk onder die knie het.

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument bied jaarliks ‘n hele reeks kursusse en werkswinkels aan wat fokus op die ontwikkeling van basiese vakkundige vaardighede. Vanjaar se program sluit onderwerpe soos argivering, taaltoerisme en stersirkelsfotografie in. Voorstelle vir addisionele werkswinkels oor soortgelyke onderwerpe is welkom. Vir meer inligting, kontak Amira Brown by tel. 021 872 3441  of stuur ʼn e-pos na kommunikasie@taalmuseum.co.za.