Vigdís Internasionale Sentrum vir Veeltaligheid in Ysland

Die Vigdís Internasionale Sentrum vir Veeltaligheid in Ysland open later vanjaar die World Language Centre om bewustheid oor die belangrikheid van tale en taaldiversiteit as een van die mensdom se kosbaarste kulturele bates te kweek.

Unieke, gratis e-boek dek 31 lande, insluitende Suid-Afrika

Na talle jare se toegewyde werk het die Ivar Aasen-sentrum ‘Language museums of the world’ gepubliseer wat die lig werp op 65 taalmuseums in 31 lande op vyf kontinente asook 15 digitale museums. Verskeie Suid-Afrikaanse museums en monumente is hierby ingesluit, onder meer die ikoniese Afrikaanse Taalmonument en -museum (ATM) in die Paarl asook die taalmonumente in sewe van die land se provinsies.

Daarbenewens het die sentrum, wat aan die Noorse taal en kultuur gewy is, nou ‘n glasmuur waarop die sin “daar is duisende tale” in Suider-Afrikaanse tale soos Afrikaans, isiNdebele en Shona, asook 30 ander tale van die wêreld, gegraveer is. Volgens die redakteur, Ottar Grepstad, word twee uit drie van alle tale in Afrika of Asië gebruik. “In hierdie boek is twee van die drie taalmuseums egter in Europa geleë. Dit dui op verskille in die institusionele ontwikkeling van samelewings, maar ook op die probleme wat verband hou met die dokumentering daarvan.”

Die direkteur van die ATM, Michael Jonas, sê hulle is geëerd om ʼn belangrike ruimte in die boek te beklee. “In ontwikkelende lande, veral dié wat voorheen gekolonialiseer is, word die positiewe, bemagtigende rol van inheemse tale egter ongelukkig geringskat. Nes die ontwikkeling van Afrikaanse belangrik is, so ook behoort die ontwikkeling van ons land se ander tale meer aandag te kry, veral in terme van die opvoedkundige en kulturele voordele daaraan verbonde,” voeg hy by. “Die Afrikaanse Taalmonument is dus vir ons ook ʼn baken van hoop vir ander Afrikatale.”

Die boek fokus op die taalmuseums vanaf 1898, museums gewy aan skryfkuns en geskrewe kultuur vanaf 1884, museums ter herinnering aan mense wat groot rolle in taalontwikkeling gespeel het en digitale museums wat op tale fokus. Dit sluit verskeie inheemse tale van die Amerikas, Europa en Australië, sowel as twee museums gewy aan Esperanto, in. ‘Language museums of the world’ beskryf ook opwindende projekte vir 18 nuwe taalmuseums in lande soos China, Korea, Israel en Engeland, en bevat inligting oor ‘n verskeidenheid taalfeeste en so meer.

Grepstad voeg by dat die manier van dink oor tale die afgelope dekades oor die hele wêreld verander het en dat byna die helfte van alle taalmuseums sedert 2000 geopen is. “Taal is ‘n kulturele, sosiale of politieke kwessie, sowel as ‘n taalkundige een, en in hierdie breër sin omvat taalmuseums ook instellings wat handel oor geskrewe of gesproke kultuur as hul kerntema,” sê hy.

Die gratis e-boek, wat opgedateer sal word sodra nuwe inligting aan die lig kom, kan vanaf 19 Maart 2018 by www.aasentunet.no afgelaai word of direk via ‘Language museums of the world’.