MEDIAVRYSTELLING

1 Augustus 2014

Laerskool Sandwater in Oesterbaai in die Oos-Kaap se leerders is ‘n paar boeke ryker danksy Laat ons Lees!, die Afrikaanse Taalmuseum en –monument (ATM) se voorleesprojek vir kinders.

Chris Els, projekbestuurder van Kouga Wind Farm, het die Taalmuseum onlangs genader met ‘n versoek om 80 boeke aan dié skool te skenk.

Els het geskryf: “Die leerders van Laerskool Sandwater gaan skool in die gemeenskapsaal omdat daar nie ander geriewe is nie. Die vorige skoolgebou is verlede jaar platgeslaan omdat dit vervalle was en ‘n veiligheidsgevaar ingehou het vir die leerders. Kouga Wind Farm is tans in samewerking met ander kontrakteurs besig om ‘n nuwe skool op te rig. Ons onderhandel met die Oos-Kaapse Department van Onderwys om basiese geriewe te verskaf, maar daar is nie ‘n begroting vir dinge soos leesboeke nie.”

Twee personeellede van die ATM het na Oesterbaai gereis om die boeke te oorhandig. Hulle het deur middel van ‘n interaktiewe aanbieding aan die leerders uitgebeeld wie en wat die ATM is en wat die instelling se opvoedkundige programme behels.

Catherine Snel, bestuurder van Erfenis en Opvoeding by die Taalmuseum, sê: “Die leerders was baie dankbaar vir die boeke wat hulle ontvang het. Dit is ‘n baie uitdagende situasie omdat al sewe grade in dieselfde saal agter afskortings klas bywoon. Ons hoop en vertrou dat ander organisasies ook ‘n bydrae kan lewer om hul situasie te verbeter.”

Die Taalmuseum het reeds duisende kinders via Laat ons Lees! bereik sedert ‘n loodsprojek in 2013 op Porterville van stapel gestuur is. Dié voorleesprojek verskaf boeke aan volwassenes wat een keer per week aan groepe kinders in hul gemeenskap voorlees.

Volgens Snel is die doel van die projek om ‘n leeskultuur by kinders te kweek deur ʼn liefde vir boeke aan te wakker.

“Ons mikpunt is om ’n omgewing te skep waar kinders tuis voel tussen boeke. Die voorlesings is baie interaktief om kinders opnuut bewus te maak van die genot van boeke en stories.”

Die Taalmuseum wil graag die projek uitbrei na ander dorpe.

“Dorpe in landelike gebiede het dikwels ʼn tekort aan leesgeriewe omdat hulle nie oor biblioteke beskik nie of ver van biblioteke geleë is. Ons doen dus ‘n beroep op die publiek, boekwinkels en uitgewers om kinderboeke ten bate van ons leesprojek te skenk, veral vir graad R- tot graad 3-leerders.”

Diegene wat boeke wil skenk of meer inligting wil bekom, kan vir Catherine Snel kontak by tel. 021 872 3441 of e-pos erfenis@taalmuseum.co.za.