poppekas-taalmuseum-leesprojek-breytenbach-sentrum

 

Laat ons Lees!, die leesprojek van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl, bied gedurende die Oktober-skoolvakansie as deel van hul Erfenismaand-vieringe ‘n poppekas-vertoning by agt biblioteke in Drakenstein aan.

Die poppekas, deur die Kaleidoskoop-dramagroep van die Breytenbach Sentrum op Wellington, handel oor die belangrik van boeke en lees. Dit vind op die volgende datums en tye plaas: 3 Oktober (Saron Biblioteek om 10:00, Gouda Biblioteek om 14:00), 5 Oktober (Wellington Biblioteek om 10:00, Wellington Lesersbiblioteek om 14:00), 6 Oktober (Mbekweni Biblioteek om 10:00, Groenheuwel Biblioteek om 14:00), 7 Oktober (Paarl Biblioteek om 10:00, Drakenstein Biblioteek om 14:00). Belangstellendes moet by hul biblioteek bespreek.

Volgens Janine Brown, opvoedkundige beampte van die ATM, is die doel van die ATM se leesprojek om ’n leeskultuur aan te kweek, ’n liefde vir boeke aan te wakker en ’n omgewing te skep waar leerders tuis voel tussen boeke. Die ATM het reeds duisende kinders bereik sedert die leesprojek in 2013 van stapel gestuur is. Die projek is gemik op skole en gemeenskappe in landelike gebiede waar daar ’n tekort aan boeke en leesgeriewe is. Op Porterville, Wellington en in die Paarl verskaf die ATM boeke aan volwassenes wat een keer per week vir groepe kinders voorlees.

Die ATM doen ‘n beroep op die publiek, boekewinkels en uitgewers om boeke vir die leesprojek te skenk – enige boek in enige taal, oud of nuut.  Vir meer inligting oor die leesprojek, kontak Janine Brown by 021 872 3441 of opvoeding@taalmuseum.co.za.

Save