Taalmonument bied genotvolle werkswinkel; borg ook plaaslike leerders ter ere van Jeugdag

Vir diegene wat dalk soms ʼn bietjie dig voel as hulle pen op papier of vinger op sleutelbord plaas om ʼn gedig op te tower, bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl weereens ʼn poëtiese oplossing: ʼn werkswinkel op Saterdag, 15 Junie 2019, met digkunskenner prof Bernard Odendaal. Nie net vorm dit deel van die monument se Jeugdagherdenkinge nie, maar deelnemers se beste Afrikaanse gedigte sal vir die Groen Galery-uitstalling by die monument oorweeg word.

Die genotvolle dag, aangebied in samewerking met die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit en die LW Hiemstra Trust, sal verskeie aspekte van digkuns bespreek asook ʼn praktiese afdeling waarin daar aan deelnemers se gedigte geskaaf sal word. Aangesien die werkswinkel gemik is op belangstellendes wat reeds dig, maar kundigheid oor hoe om hul gedigte beter en treffender te maak wil opdoen, word hulle aangemoedig om een van hul gedigte saam te bring. Odendaal, die direkteur van die ATKV-Skryfskool, is ’n deskundige op die gebied van die Afrikaanse digkuns en self ’n gepubliseerde digter, liedteksskrywer en essayis.

Van die vrae wat onder die loep geneem gaan word, is:

  • Waarom skryf ons as mense gedigte?
  • Wat onderskei gedigte van byvoorbeeld prosawerk? Met ander woorde, watter kommunikasiewyses en skeppingsmiddele is in die besonder van toepassing by die skryf van poësie?
  • Verskil liedtekste en gedigte enigsins van mekaar?
  • Op grond waarvan kan ’n mens die kunsgehalte van ʼn gedig bepaal?

Die werkswinkel vind in die konferensielokaal van die Taalmonument in Gabbema Doordriftstraat op Paarlberg vanaf 09:00 tot 16:00 plaas. Dit kos slegs R150 per persoon, wat ʼn gratis besoek aan die monument asook koffie/tee, soetgoed en ʼn heerlike middagete insluit. Plekke is beperk, dus bespreek asseblief vroegtydig by Jeffrey Pietersen op 021 872 3441 of bemarking2@taalmuseum.co.za om deelname te verseker. Ter ere van Jeugdag, gaan die ATM ook 10 belowende Drakenstein-leerders borg om die dag gratis by te woon.

Naas opwindende musiek- en ander geleenthede, bied die ATM jaarliks ʼn reeks kursusse en werkswinkels aan wat fokus op die ontwikkeling van basiese vakkundige vaardighede. Vanjaar se program sluit onderwerpe soos boekherstelwerk, museumbewaring en stersirkelsfotografie in. Voorstelle vir bykomende werkswinkels word verwelkom. Sien www.taalmonument.co.za vir meer en volg hulle op Facebook, Twitter en Instagram. Meer oor die ATKV-Skryfskool by http://humanities.nwu.ac.za/af/atkv-creative-writing/oor-ons