Gewilde Haarhoff bied prettige werkswinkels by Taalmonument aan

As jy onvergeetlike oomblikke en tonele pragtiger wil verewig, bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) op 7 September en 5 Oktober 2024 (Saterdae) weer twee lente-werkswinkels met fotografie-afrigter Peter Haarhoff aan.

Vir diegene wat wil ophou om die kamera op “outomaties” te gebruik en nie tyd vir uitgerekte fotografiekursusse het nie, is die genotvolle dagkursus vir beginners op 7  September ideaal. Dit is ‘n praktiese, tweetalige program wat beteken dat jy dit wat jy geleer het, onmiddellik onder die wakende oog van jou dosent en foto-afrigter kan beoefen. Die teorie vind in die lesinglokaal plaas waarna almal oefen hoe om fantastiese foto’s van mens, natuur en struktuur by die skilderagtige monument te neem.

Die volgende aspekte sal belig word:

  • Neem beheer oor jou DSLR-kamera;
  • Hoe om program- en handmatige opsies te gebruik;
  • Hoe die lensopening die velddiepte beheer;
  • Stel jou sluiterspoed in vir waarlik skeppende fotografie;
  • Witbalans en ISO-instellings;
  • Flitsfotografie en beligtingskompensasie;
  • Filters en sosiale media soos Instagram; en
  • Hoe om beter foto’s op te stel en nog baie meer.

Die gevorderde dagkursus is op 5 Oktober en is ideaal vir deelnemers wat ʼn beginnerskursus voltooi het of ʼn goeie begrip van sluiterspoed, diafragma en ISO-instellings het, en gemaklik voel om foto’s in die handmatige modus te neem. Om jou fotografie na die volgende vlak te neem, sal jy hiermee leer hoe om uitstaande foto’s te neem deur meer komplekse kamerategnieke te verken en nuwe denke op die fotografiese proses toe te pas. Die balans tussen die tegniese en skeppende aspekte van fotografie sal ook verfyn word.

Beide kursusse vind by die Taalmonument op Paarlberg vanaf 09:00 tot 16:00 plaas. Dit kos slegs R400 per persoon, wat ʼn gratis besoek aan die monument asook verversings insluit. Deelnemers kan hul eie middagete bring of die Suikerkan-bistro ondersteun, waar hulle 10%-afslag ontvang. Deelnemers moet hul eie DSLR-kamera of enige kamera met handmatige beheer (manual control) bring – geen selfoonkameras nie. Plekke is beperk, dus bespreek asseblief vroegtydig by Stefanie Rasztabiga via 021 872 3441 of kommunikasie@taalmuseum.co.za. Meer oor Peter Haarhoff by flickr.com/people/peterhaarhoff/

  • Vir meer inligting oor al die opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat onbeperkte toegang tot die ATM, bistro en Volmaanpieknieks insluit. Die bistro bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte; kontak hulle via diesuikerkan.co.za of 082 216 2510.