Taalmonument bied opleiding oor boekherstel en -bindery aan

Jy is mal oor jou ou, verwaarloosde hardebandboeke, maar wens net jy kon die kuns bemeester om hulle met liefde reg te dokter? Dan is die boekherstelspesialis George Wentzel se kursusse by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl weereens die antwoord op jou drome. Wentzel, ‘n gekwalifiseerde meesterboekbinder met meer as 45 jaar se ondervinding, bied ‘n inleidende kursus oor die herstel van ou hardebandboeke vanaf Woensdag, 24ste, tot Vrydag, 26ste, Februarie 2021 aan. Van 29 tot 31 Maart vanjaar bied hy ook ‘n gevorderde kursus by die ATM aan.

Hierdie kenner het voorheen in die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika se boekbewaringsafdeling gewerk en is altyd geesdriftig om hierdie skaars vaardigheid aan andere te onderrig. Danksy sy vele toekennings en die aanbied van meer as 50 rampbestuur- en boekbindwerkwinkels dwarsoor die land, is hy ongetwyfeld ʼn fontein van teoretiese en praktiese kennis.

Geen vooraf opleiding is nodig vir die tweetalige driedagkursus nie. Deelnemers sal drie boeke maak en bladgoudwerk en basiese boekherstelwerk doen. Ingesluit is werksprosedures, ‘n oorsig van die dele van ‘n boek en die samestelling daarvan, asook demonstrasies van en praktiese oefeninge in skutblaaie, boekbindwerk, leerbindwerk, omhulsel afronding en bladrugsteun.

Die kursus kos R1 750 per persoon wat ʼn sertifikaat van bywoning en ʼn stel basiese gereedskap insluit. Dit vind daagliks van 09:00 tot 15:30 in die Konferensielokaal in die Besoekersentrum by die Taalmonument plaas. Koffie en tee is ingesluit, maar deelnemers moet sorg vir hul eie middagete of Oppi Berg Mobile Café ondersteun. In terme van die Covid-19-regulasies sal deelnemers maskers moet dra.

‘n Gevorderde kursus in boekherstel – wat fokus op gevorderde goudblad- en herstel tegnieke asook die bou van Solanderbokse – word van 29 tot 31 Maart 2021 aangebied. Die gevorderde kursus, ook R1 750 per persoon, is geskik vir deelnemers wat reeds die basiese beginsels van boek- en papierherstelwerk verwerf het, en elke persoon sal weer drie boeke skep.

Vir besonderhede en besprekings, kontak Jeffrey Pietersen by 021 872 3441 of stuur ʼn e-pos na bemarking2@taalmuseum.co.za.

Die ATM bied jaarliks ʼn reeks kursusse en werkswinkels aan wat fokus op die ontwikkeling van basiese vakkundige vaardighede. Voorstelle vir bykomende werkswinkels oor soortgelyke onderwerpe is welkom. Sien www.taalmonument.co.za vir meer en volg hulle op Facebook vir al die ander opwindende geleenthede wat by die Taalmonument en Taalmuseum plaasvind. Jaarpermitte is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin (tans aangebied teen ʼn 20%-afslag), wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.