Taalmonument bied klasse oor boekherstel en -bindery

Jy is mal oor jou ou, verwaarloosde hardebandboeke, maar wens net jy kon die kuns bemeester om hulle met liefde reg te dokter? Dan is die boekherstelspesialis George Wentzel se kursusse by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl die antwoord op jou drome. Wentzel, ‘n gekwalifiseerde meesterboekbinder met meer as 45 jaar se ondervinding, bied ‘n inleidende kursus oor die herstel van ou hardebandboeke vanaf Woensdag 31 Julie tot Vrydag 2 Augustus 2019 aan. Hierdie afgetredene het voorheen in die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika se boekbewaringsafdeling gewerk. Sy passie is om hierdie skaars vaardigheid te onderrig en hy het al meer as 30 rampbestuur- en boekbindwerkwinkels oor die land aangebied. In Oktober vanjaar bied hy ook ‘n gevorderde kursus by die ATM aan.

Geen vooraf kennis is nodig vir die tweetalige driedagkursus nie. Deelnemers sal drie boeke maak en bladgoudwerk en basiese boekherstelwerk doen. Ingesluit is werksprosedures, ‘n oorsig van die dele van ‘n boek en die samestelling daarvan, asook demonstrasies van en praktiese oefeninge in skutblaaie, boekbindwerk, leerbindwerk, omhulsel afronding en bladrugsteun.

Die tweetalige kursus kos R1 750 per persoon wat ʼn sertifikaat van bywoning en ʼn stel basiese gereedskap insluit. Dit vind daagliks van 09:00 tot 15:30 in die Konferensielokaal in die Besoekersentrum by die Taalmonument plaas. Koffie en tee is ingesluit, maar deelnemers moet sorg vir hul eie middagete of van die Volksmond Koffiewinkel gebruik maak.

‘n Gevorderde kursus in boekherstel – wat fokus op gevorderde goudblad- en herstel tegnieke asook die bou van Solanderbokse – word van 28 tot 30 Oktober 2019 aangebied. Die gevorderde kursus, ook R1 750 per persoon, is geskik vir deelnemers wat reeds die basiese beginsels van boek- en papierherstelwerk verwerf het, en elke persoon sal weer drie boeke skep.

Vir besonderhede en besprekings, kontak Jeffrey Pietersen by 021 872 3441 of stuur ʼn e-pos na bemarking2@taalmuseum.co.za.

Die ATM bied jaarliks ʼn reeks kursusse en werkswinkels aan wat fokus op die ontwikkeling van basiese vakkundige vaardighede. Vanjaar se program sluit onderwerpe soos argivering, taaltoerisme en stersirkelsfotografie in. Voorstelle vir bykomende werkswinkels oor soortgelyke onderwerpe is welkom. Sien www.taalmonument.co.za vir meer inligting en volg ons op Facebook vir al die ander opwindende geleenthede wat by die Taalmonument plaasvind.