Taalmuseum ontvang Kultuursake-toekenning

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) het ‘n prys ontvang vir die beste nuwe museumprojek by die Departement van Kultuursake en Sport se 2015 Kultuursake-toekennings. Dit is toegeken vir ‘n opvoedkundige projek wat die ATM in 2013 by Esselenpark Primêr ter viering van dié skool se 60ste bestaansjaar op Worcester aangebied het.

Volgens Jack Louw, Direkteur van die ATM, is die toekenning ‘n groot eer.

“Twee ander projekte, onderskeidelik van Iziko Museums van Suid-Afrika en Ceres Togryers Museum, is ook benoem in hierdie kategorie. Ons wens dus die skoolhoof, opvoeders en leerders van Esselenpark Primêr baie geluk met hierdie prestasie.

“Ek wil graag vir Janine Brown, opvoedkundige beampte van die ATM, en ons voormalige bestuurder van erfenis en opvoedkunde, Catherine Snel, bedank vir hulle inisiatief en harde werk wat hierdie projek moontlik gemaak het. Ek hoop dat die projek ander skole sal inspireer om iets soortgelyks aan te pak.”

Snel het die geleentheid geïdentifiseer om betrokke te raak ná sy by ’n opvoeder van die skool, Kevin Sass, verneem het van hul  60-jarige bestaansvieringe.

Die kurrikulum skryf voor dat graad 4-leerders ‘n interaktiewe museumuitstalling moet doen – leerders moes dus ‘n uitstalling met alledaagse voorwerpe oor hul skool saamstel, met byskrifte om daaraan betekenis te gee. Hulle moes verskillende vorme van inligting, waaronder foto’s, versamel en met oudleerders en -opvoeders onderhoude voer. Een van die interessante voorwerpe wat ingesamel is, is ‘n skoolbaadjie wat behoort het aan ‘n leerder wat dit destyds met sy eie sakgeld ge-“lay-buy” het.

Die ATM se personeel het die skool gereeld besoek om te help met onderhoudvoering en het ook ’n boekie oor die projek saamgestel. Dié boekie is op die ATM se webwerf by www.taalmuseum.co.za beskikbaar.

Charlene Krieger, graad 4-opvoeder, het gesê sy is “supertrots” op die leerders. “Ek sou nie geweet het hoe om hierdie museumuitstalling aan te pak sonder die hulp van die Taalmuseum nie.  Die hoogtepunt was die opvoedkundige uitstappie na die Taalmuseum en -monument en ons is dankbaar vir die busvervoer wat deur die museum geborg is.”

Vir meer inligting oor die ATM, skakel tel 021 872 3441 of stuur ‘n e-pos na admin@taalmuseum.co.za.