MEDIAVRYSTELLING

14 Julie 2014

Kruie-markdag op Montagu ter viering van Erfenisdag

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument bied op 24 September in samewerking met Montagu Museum ‘n spesiale kruie-markdag ter viering van Erfenisdag aan. Dié twee museums werk reeds die afgelope jaar saam aan ‘n projek oor die belangrikheid van kruie as kultuur- en natuurhistoriese erfenis.

Die kruie-markdag vind van 10:00 tot 15:00 by die Montagu Museum Kunsgalery plaas. Dit sluit verskeie aktiwiteite in, waaronder ‘n braai, potjiekos en ‘n kaas-en-wynproe. Vermaak sluit ‘n trompoppie-vertoning om 09:00 en musiek en tradisionele kinderspeletjies in. Praatjies en demonstrasies sluit onderwerpe soos kruie in kos en die maak van haarprodukte met kruie in.

Volgens Catherine Snel, bestuurder van Erfenis en Opvoeding by die Taalmuseum, wil hulle graag
gesprekvoering rondom verskillende fasette van kruie aanmoedig om sodoende die fokus te plaas op inheemse kennis van kruie en die gebruike daarvan.

“Ons wil graag aan die publiek ‘n geleentheid bied om hul kruieprodukte gratis ten toon te stel. Die enigste voorwaarde is dat elke produk kruie moet bevat en dat die inligting oor hoe die produk vervaardig word, aan ons verskaf moet word. ‘n Deposito van R50 is betaalbaar om ‘n stalletjie te bespreek.

“As deel van ons projek het ons reeds gesprekke met kruie-kenners gevoer en staaltjies, gebruike en rate opgeteken. Ons is besig om al hierdie bevindinge te dokumenteer. Die inligting sal na afloop van die projek by die onderskeie museums en plaaslike biblioteke beskikbaar wees.”