MEDIAVRYSTELLING

10 Maart 2014

Kruie-erfenis tydens Biblioteekweek in Langeberg gevier

As deel van Biblioteekweek beplan die Afrikaanse Taalmuseum en -monument en Montagu Museum ‘n spesiale Kuier rondom kruie-program, wat in samewerking met die Langeberg Biblioteke aangebied word.

Die program sluit in formele aanbiedings oor kruie, interaktiewe gesprekvoering met die gehoor, demonstrasies van kruieprodukte en ‘n uitstalling oor kruie en kruieprodukte.

Op 18 Maart vind die program van 10:00 tot 12:00 by Robertson Biblioteek plaas, en van 14:00 tot 16:00 by Bonnievale Biblioteek. Op 19 Maart word dit van 10:00 tot 12:00 by McGregor Biblioteek aangebied, en van 14:00 tot 16:00 op Montagu by die KWV-Kunsgallery.

Volgens Catherine Snel, bestuurder van Erfenis en Opvoeding by die Taalmuseum, wil hulle graag

gesprekvoering rondom verskillende fasette van kruie aanmoedig om sodoende die fokus te plaas op inheemse kennis van kruie en die gebruike daarvan. Die projek het reeds in Oktober 2013 afgeskop met ‘n uitnodiging aan die publiek om kruiewenke en -rate in te stuur as deel van ‘n kompetisie.

“As deel van ons projek om kruie as kultuur- en natuurhistoriese erfenis te bevorder en bewaar sal ons staaltjies, gebruike en rate opteken, en alle bevindings dokumenteer. Biblioteke is een van ons belangrikste inligtingsbronne en daarom sal hierdie inligting na afloop van die projek by die onderskeie museums en plaaslike biblioteke beskikbaar wees.”