Taalmonument wys wenners van kort skrywes aan, hoop om 1 Oktober weer oop vir die publiek te wees

Ter ere van Afrikaanse Taaldag op 14 Augustus is die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) verheug om die top-drie- en top-twaalf-inskrywings van die instellings se korona-kompetisie aan te kondig. Wenner Fawa Conradie en die twee naaswenners, Nikita Naudé en Karel Dampies, het saam R4 000 en jaarpermitte losgeslaan én hul gedigte sal saam met dié van die ander nege (vir eers virtueel) in die Groen Galery uitgestal word. Die ander nege is Adele Gill, Desidereus Claassen, Dewald Elrico Jacobs, Elzane Brand, Jean Jaco Julies, Kallie Pauw, Neville Carolus, Priscilla Booysen en San Aucamp.

Vir 2020 het niemand immers 2020-visie gehad nie. Terwyl die ATM op ‘n grootse 45ste vieringe voorberei het, het ‘n piepklein virus binne maande die planeet tot stilstand laat knars met inperkings wat mense sover moontlik tuisgehou het. Hoewel die ATM vir die publiek gesluit is, het ‘n skeppende virtuele program begin vorm aanneem om die “nuwe normaal” deel van die instelling se geskiedkundige groei te maak. Naas aanlyn virtuele toere, webinare, ʼn verhoogde sosiale mediavoetspoor, ‘n musiekkonsert en ‘Dans van die Vlamme’, is een en almal uitgenooi om hul penne te ontperk en iets snaaks, absurds of ironies op te tower. Dit sluit limerieke, gedigte, gedagtes, haikoes, slagspreuke, flitsfiksie of lirieke oor dié geskiedkundige tye in – iets wat by hul huise of enige ander plek tydens die inperking afgespeel het.

Met die 200 inskrywings wat ontvang is, is dit duidelik dat Afrikaanses ook die huidige uitdagings met humor die hoof bied. Nuutskeppings soos ‘koeshoes’, ‘grendelgriep’ en kwarantynwyn’ asook die snaakse Afrikaanse meme en grappies wat soos ʼn virus op sosiale media versprei, bewys dat kreatiwiteit nie ingeperk kan word nie. Volgens Michael Jonas, die ATM se direkteur, is die instelling ʼn lewende monument waar daar gedurig ʼn interaksie tussen die struktuur, natuur, besoekers en taalskeppers is. “Ons bedank almal vir hul volgehoue ondersteuning en ons is werklik oorweldig deur al die positiewe reaksie op die kompetisie. Die erns van die Covid-19-pandemie word nie onderskat nie, dus dra ons hierdie uitstalling op aan almal wat hul lewe op die spel plaas om dit te beveg, en ook aan diegene wat geliefdes aan hierdie siekte moes afstaan.” Taaldag herdenk die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in 1875 in die huis wat nou die museum huisves – sy lede het ʼn belangrike rol gespeel om Afrikaans as skryftaal erken te kry.

Jonas sê die meeste besoekers is nie net baie geïnteresseerd in die geskiedenis van Afrikaans nie, maar ook nuuskierig oor die taal se ontwikkeling en haar jongste skeppende gedaantes aangesien dit nuwe perspektiewe bied op die bestaanswêreld van Afrikaanssprekende Afrikane. “Hoewel ons tans tydelik weens Covid-19 gesluit is, beskou ons dit as ʼn gulde geleentheid om ons web- en sosiale mediavoetspoor onder meer mense bekend en bemind te maak, en om onderhoudswerk te verrig.” Volgens hom sal die instelling op Donderdag 1 Oktober weer aan die publiek oopgestel word as die nodige goedkeuring verkry word. “Ons kyk die kat uit boom, want ons wil nie oopstel net om weer toe te maak soos die pandemie deur fases beweeg nie. Ons sal ook byvoorbeeld, ter wille van veiligheid en gemak, vir eers ʼn mobiele koffiewinkel bedryf sodra ons open. Ook sal die besoekersgetal beperk en alle Covid-19-maatreëls nagekom word.”

Die argitek van die monument, Jan van Wijk, het sterk gevoel oor die natuur en daarom word hy vereer deur dié buiteluggalery waar sy as in ’n rots ingemessel is, knus omring deur inheemse olienhout en graniet. ʼn Uitstalling van verskeie opkomende Afrikaanse skrywers word elke paar maande in dié galery se uitstalkaste van herwonne hout en glas aangebied om hiermee op die monument se kulturele én natuurlike aspekte te fokus. Sien www.taalmuseum.co.za/groen-galery/ vir die huidige en vorige uitstallings.

Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is ook heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte.

Vir verdere inligting oor die ATM en ander geleenthede wat deel uitmaak van die instelling se 45ste vieringe, skakel 021 863 0543/4809 en 071 500 8740 (selfoon slegs tydens werksure) of besoek www.taalmonument.co.za en www.facebook.com/afrikaansetaalmonument. Laasgenoemde het ook skakels na die gratis virtuele geleenthede wat die ATM sedert die inperking aangebied het.