slyp jou afrikaans-werkswinkel 29 Mrt 2017 taalmonument

Wil jy graag jou skriftelike Afrikaans verfyn? Kom (her)ontdek ʼn paar geheime van goeie taalgebruik in die Kom-slyp-jou-Afrikaans-werkswinkel op Woensdag 29 Maart by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl.

Dié werkswinkel deur die taalkenner Tom McLachlan sal veral jou kennis van leestekens en skryfwyses (vas of los; koppeltekens en deeltekens; hoofletters en kleinletters) verfris. ʼn Klompie gereelde foute, soos woorde wat verkeerd gebruik of gespel word, sal behandel word en jy sal ook vrae oor jou eie taalprobleme kan vra.

McLachlan is ʼn beroepstaalpraktisyn wat, ná ʼn draai in die sekondêre en tersiêre onderwys, die grootste deel van sy loopbaan in taaldienste gewerk het. As lid (en voorsitter) van die Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns was hy ten nouste betrokke by die negende en die tiende uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls en medeontvanger van die CJ Langenhoven- en die CL Engelbrecht-prys. Hy was medeskrywer van X-Kit Afrikaans for English speakers, wat met ʼn ATKV-Veertjie bekroon is, die skrywer van die taalgedeelte van die HAT Taal- en Feitegids en ʼn medewerker aan verskeie woordeboeke. In 2015 ken die Akademie die CJ Langenhovenprys vir Taalwetenskap aan hom toe. Sedert sy aftrede is hy ʼn aktiewe vryskuttaalpraktisyn.

Die werkswinkel kos R150 per persoon en vind van 08:30 tot 16:00 in die Konferensielokaal in die Besoekersentrum by die Taalmonument plaas. Dit vorm deel van ʼn gewilde reeks kursusse en werkswinkels wat jaarliks deur die Afrikaanse Taalmuseum en -monument aangebied word. Die reeks fokus op die ontwikkeling van basiese vakkundige vaardighede en sluit onderwerpe soos rekordbestuur, argivering, boekherstel (inleidend én gevorderd), taaltoerisme, stersirkelsfotografie en slangbewusmaking en -hantering in. Voorstelle vir addisionele werkswinkels oor soortgelyke onderwerpe is welkom. Vir meer inligting, kontak Amira Brown by tel. 021 863 0543/2  of stuur ʼn e-pos na kommunikasie@taalmuseum.co.za.

Save