Met vermaak, geskenke en pieknieks vir die hele gesin
Om die druk op hom te verlig, het Kersvader wéér besluit om solank vooraf geskenke uit te deel tydens die gewilde Desember-volmaanpiekniek by die ikoniese Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) op Saterdag, 16 Desember 2023.
ʼn Beeldskone aand met kindervermaak, speelparke en buitelugspeletjies vir die jongspan – asook ʼn sonsondergang gevolg deur ʼn volmaan en Vader Krismis – beloof om die dag in ʼn onvergeetlike geleentheid te omskep. Omdat die piekniekreeks ten bate is van ‘Laat ons Lees!’, die ATM se geletterdheidsprojek, word besoekers aangemoedig om ʼn nuwe of tweedehandse kinderboek te skenk.
Die hekke open reeds om 16:00 waarna kinders vanaf 17:00 tot 19:00 hul gesigte laat verf en aan kunsvlytaktiwiteite deelneem. Vir die ouer kinders is daar ook vaardigheidsaktiwiteite. Gaste word aangemoedig om die omgewing en die simboliekgelaaide beeldhouwerk te verken – ’n gratis begeleide toer vind om 18:00 plaas om als te verduidelik. Om 19:30 behoort Kersvader sy opwagting te maak om presente uit te deel, dus ouers moet asseblief hul kinders se duidelik gemerkte geskenke teen 18:30 in sy Kerskous in die Besoekersentrum besorg.
Gaste is welkom om hul eie pieknieks en drankies (geen glas) te bring of vooraf ʼn piekniekmandjie by die Suikerkan via 082 216 2510/082 856 1871 of info@diesuikerkan.co.za te bestel – hierdie bistro sal ook verversings tydens die geleentheid verkoop. Onthou warm klere en ʼn flits; genoeg veilige parkering is beskikbaar. Die geleentheid sal tot 22:00 duur.
Toegang is slegs R40 per volwassene, R10 vir SA studente, pensioenarisse en kinders. Dit is GRATIS vir kinders onder ses jaar, jaarpermithouers en Drakenstein-inwoners met geldige biblioteekkaartjies. Kaartjies is beskikbaar by Computicket of die hek, en besprekings is onnodig. Vir meer inligting, kontak Stefanie Rasztabiga op 021 863 0543 of kommunikasie@taalmuseum.co.za. Die volgende volmaanpieknieks is op 26 Januarie, 23 Februarie en 22 Maart in 2024.
- Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle volmaanpieknieks insluit. Die ATM Koffiehuis bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte.