Kanonafvuringe 2017

Wil jy ‘n kanon afvuur? As jy slim genoeg is, kan jy dalk – by die kanonafvuring op elke laaste Saterdag van die maand by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl.

Dié reeks afvurings word in samewerking met CAOSA (Cannon Association of South Africa) aangebied. Die kanon, ‘n Halfponder (1770 Armstrong), word om 12:00 op die Tuinteater-verhoog afgevuur. ‘n Lid van die publiek wat die kannonier se vraag oor die kanon of kanongeskiedenis reg kan beantwoord, kry die geleentheid om die kanon af te vuur.  CAOSA reik ‘n sertifikaat uit as bewys dat die persoon die skoot by die Taalmonument afgevuur het.

Die afvuring word voorafgegaan deur ‘n kort praatjie oor die geskiedenis van Suid-Afrika se kanonne as vorm van kommunikasie, waaronder die VOC-kanonseinstelsel, asook ‘n demonstrasie van die gebruik van al die laaigereedskap. Die kanon word gelaai met buskruit (geen projektiel). Die praatjie word om 11:30 in Engels aangebied en om 11:45 in Afrikaans.

Volgens kanonnier Riaan Conradie, wat die demonstrasies by die Taalmonument behartig, beskik Suid-Afrika oor een van die grootste verskeidenheid voorlaaierkanonne in die hele wêreld: “Baie van hierdie kanonne is oor die jare ongelukkig erg verwaarloos en soms selfs vernietig. Dit is CAOSA se missie om navorsing te doen oor hierdie voorlaaierkanonne en die VOC-kanonseinstelsel, asook om hierdie kanonne op te spoor, te restoureer en ten toon te stel om dit vir ons nageslag te bewaar. Die vereniging het al meer as ‘n duisend van hierdie kanonne regoor Suid-Afrika opgespoor, opgemeet en geregistreer in die DURR-rekord van Suid-Afrikaanse Voorlaaierkanonne. Ons gesels tydens ons afvuring ook oor die Sesponder-kanon op Paarlberg en ander kanonne in Drakenstein.”

Kanonafvurings vind in 2017 plaas op 28 Januarie, 25 Februarie, 25 Maart, 29 April, 27 Mei, 24 Junie, 29 Julie, 26 Augustus, Sondag 24 September (Erfenisdag), 30 September, 28 Oktober, 25 November en 30 Desember. In die geval van harde reën, sal die kanonafvuring gekanselleer word.

Die Taalmonument se toegangsfooi is R25 vir volwassenes (R30 van April 2017), R10 vir SA studente en R5 vir kinders (gratis onder ses jaar). Daar is geen ekstra fooi vir die kanonafvuring nie, maar besoekers is welkom om ‘n donasie aan CAOSA te maak. Vir navrae, kontak Amira Clayton by tel. 021 863 4809/0543 of kommunikasie@taalmuseum.co.za.

Save

Save