Jeugdag Taalmuseum 2018 Klein

Taalmonument vier Jeugdag met Jitsvinger
Jong rymkletsers kry ook kans om koning(in) te kraai

Ter ere van Jeugdag 2018, bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) en Afrikaans.com ʼn opwindende gratis konsert, kompetisie en werkswinkel vir jong rymkletsers waar die beroemde Jitsvinger se wyse wysvinger die toon gaan aangee.

Ander vermaak sluit in Getuies, ʼn Paarlse rymkletsgroep, asook ʼn opvoering deur Klein Nederburg Sekondêre Skool se dramagroep. Om die skoolvakansie tot voordeel te gebruik, sal dié energieke dag vol klank en talent op Saterdag 23 Junie vanaf 14:00 by hierdie Paarlse skool plaasvind. Leerders wat reken hulle kan rymklets, word uitgenooi om vooraf vir die ‘open mike’ in te skryf. Die inskrywing is gratis en alle deelnemers sal outomaties ʼn geskenkbewys ontvang, maar ruimte is beperk. In rymklets is daar immers krag, dus moenie wag op nog ʼn dag.

Jitsvinger sal die motiveringsspreker wees en die gehoor vergas met sy vinnige, vlymskerp woorde voordat hy die jong talent met hul optredes help. Die jeugdige sterre van die skool se dramagroep gaan gedeeltes uit hul ‘Simunye, We are One, Ons is Een’ vertoning aanbied, veral dié wat fokus op musiek en dans. Hierdie produksie, wat ook ʼn draai by die Suidoosterfees gemaak het, vier die land se kulturele diversiteit.

Vir meer inligting en om in skryf vir die ‘open mike’, kontak Jeffrey Pietersen op 021 872 3441. Besoek www.taalmuseum.co.za of volg die Taalmonument op Facebook, Twitter of Instagram.