MEDIAVRYSTELLING

16 Junie 2014

Jeugdag by die Taalmuseum in die Paarl: 20 Jaar van Vryheid gesprekvoering

Die Afrikaanse Taalmuseum en –monument het in samewerking met Koinonia op Saterdag 14 Junie ‘n spesiale program van gesprekvoering aangebied ter viering van Jeugdag en van 20 Jaar van Vryheid. Koinonia is ‘n Paarlse organisasie wat op nasionale vlak ondersteuningsdienste aan die jeug verskaf.

Volgens Catherine Snel, Bestuurder van Erfenis en Opvoeding by die Afrikaanse Taalmuseum, was die doel van die dag om veral jongmense bewus te maak van die Apartheidsregering se taalbeleid in skole waarteen die jeug op 16 Junie 1976 in opstand gekom het, en die gevolge daarvan, waaronder dat leerders vandag moedertaalonderrig kan geniet.

“Ons program het aan jongmense ‘n geleentheid gebied om in gesprek te tree met die jeug van 1976, akademici, museumpersoneel én hulle eie portuurgroep. Leerders, studente, jeuggroepe en gemeenskapsorganisasies het die geleentheid by te woon.”

Die program het afgeskop met ‘n kort opsomming oor gebeurtenisse wat gelei het tot 16 Junie 1976 en ‘n multi-media aanbieding van “I am an African”, soos voorgelees deur oudpresident Thabo Mbeki. Drie gassprekers het aan die program deelgeneem. Die bekende aktivis en pastoor Chris Nissen het gesels oor gebeure tydens en ná 16 Junie 1976, Eddie Williams van Koinona het vertel van die dag toe hy vir die eerste keer sy kruisie kon maak en die vrygeborene Amber Cupido het haar  ervaringe van die nuwe Suid-Afrika gedeel.

Die plaaslike dansgroep PE JAKS het die tema van 20 jaar van Vryheid uitgebeeld,  Lizann Isaacs  het “Die Kind” van Ingrid Jonker voorgedra en die gehoor het die nasionale volkslied ter afsluiting gesing.