MEDIAVRYSTELLING

26 Mei 2014

Internasionale Museumdag in die Paarl

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) het op 24 Mei ‘n gratis paneelbespreking ter viering van Internasionale Museumdag aangebied wat deur 126 gaste bygewoon is. Die deelnemers was dr Willem Botha, hoofredakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), Catherine Snel, bestuurder van Erfenis en Opvoeding by die ATM en die rymkletser Simon Witbooi, aka Hemelbesem.

Volgens Snel  word Internasionale Museumdag jaarliks wêreldwyd op of rondom 18 Mei gevier sedert in 1977 deur die Internasionale Komitee van Museums ingestel is om mense bewus te maak van die belangrike rol wat museums in die samelewing speel.

“Vanjaar se tema was ‘In voeling met museumversamelings’. Die bestuur van museumversamelings is een van die belangrikste funksies van museums – in die Taalmuseum se geval sluit dit tasbare en nie-tasbare voorbeelde in.

“Op Museumdag wou ons alle Afrikaanssprekendes opnuut bewus maak daarvan dat ons taal ‘n kragtige instrument is en dat dit inderdaad ‘n kuns is om met woorde te kan toor! Die spreektaal van alle Afrikaanssprekendes dra by tot die diversiteit van ons taal – daarom het ons paneelbespreking gefokus op die skep van nuwe woorde en uitdrukkings, woordspeling en metafore.”

Snel het ‘n aanbieding gedoen met voorbeelde van kleurvolle uitdrukkings en woorde wat tussen 2006 en 2007 deur die ATM in die Kamiesbergstreek, Noord-Kaap, opgeteken is.

“Dit is belangrik vir die ATM om deur middel van sulke projekte ‘n bydrae te lewer tot die bewaring en uitbouing van die verskeie variëteite van Afrikaans. Wyle Tant Grietjie van Garies het juis gesê: ‘woorde sterf nie, dit weerklink’.”

Dr Botha het gesels oor nuutskeppings, watter nuwe woorde in woordeboeke ingesluit word en hoe die publiek by die WAT se Borg ‘n woord-projek betrokke kan raak. Witbooi het verduidelik hoe rymkletsers nuwe woorde, idiome en metafore gebruik om Afrikaans opwindend te hou.

Vir navrae, kontak Janine Brown by die Afrikaanse Taalmuseum by tel. 021 872 3441 of opvoeding@taalmuseum.co.za.