MEDIAVRYSTELLING

11 April 2014

Internasionale Dag van Monumente en Terreine in die Paarl

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument het op Vrydag 11 April in samewerking met die Hugenote Gedenkskool ‘n spesiale program aangebied ter viering van Internasionale Dag van Monumente en Terreine.

Hierdie dag word jaarliks wêreldwyd op of rondom 18 April gevier ná dit in 1982 deur die Internasionale Raad van Monumente en Terreine ingestel en in 1983 deur UNESCO aanvaar is. Die doel van die dag is om die publiek bewus te maak van hul diverse kulturele erfenis met die oog op die bewaring en beskerming van hierdie erfenis.

Die gasspreker was Michael Jonas, Hoof Museumgeesteswetenskaplike van die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport, wat gesels het oor die tema “Erfenis van Herdenking”.

Twee sprekers het ook gevallestudies oor suksesvolle erfenisprojekte bespreek, naamlik Quinton Fortuin, ‘n navorser van Pniël, wat oor die erfenis van dié sendingstasiedorp naby die Paarl gesels het, en Marguerite Lombard van die Drakenstein Heemkring, wat meer vertel het oor hoe dié argief in die Paarl dié streek se geskiedenis vir die publiek ontsluit.

As deel van die program het die gaste drie erfenisterreine besoek, naamlik die Taalmonument, die Anglo-Boereoorlog Monument  op die plaas Laborie en die Hugenote Gedenkskool, die eerste amptelike Afrikaanse skool, wat op die plaas Kleinbosch in Dal Josafat geleë is.

Vir navrae, kontak Janine Brown by die Afrikaanse Taalmuseum by tel. 021 872 3441 of opvoeding@taalmuseum.co.za.