Groen Galery by Taalmonument spog met oorspronklike gedigte

Die Historium Trust in die Paarl was ‘n trotse borg van die digitale skeppende skryftuiste INK Skryf in Afrikaans se 2022-Skrywerskompetisie. Dit het einde verlede jaar ‘n hoogtepunt bereik met ‘n prestige 7de gala-aand in Pretoria waartydens pryse aan die wenners toegeken is. Nou word die top-inskrywings boonop in die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se Groen Galery uitgestal ter ere van Internasionale Museumdag en Afrikadag in Mei 2023.

Ink.org.za is ‘n onafhanklike webtuiste gemik op die bevordering van gehalte poësie en kortverhaalkuns in Afrikaans waarop digters, skrywers en liriekskrywers hul werk kan publiseer. Volgens Anzé Bezuidenhout, die stigter van INK, was die dig- en skryfkompetisie oorval met inskrywings van uitsonderlike gehalte. “Beoordelaars, onder wie Karin Zoid, Jackie Nagtegaal en Francois Terblanche, moes mooi trap om wenners uit hierdie talent te kies,” sê sy. Toekennings is aan onder andere Rina Bester, Quiriané Charilaou, Sunell Coetzee, Aliyah Cremer, Linda du Plessis, JD Fourie, Drienie Kelly, Anne-Marie Kotzeé, Charles Thompson en Jenna Wilkinson oorhandig.

Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, is die missie van hierdie lewende instelling om onder meer die ryke diversiteit van Afrikaans se ontstaansgeskiedenis asook haar moderne gedaantes te vier. “Die meeste besoekers is nie net baie geïnteresseerd in die geskiedenis van Afrikaans nie, maar ook nuuskierig oor die taal se ontwikkeling en haar jongste skeppende gedaantes aangesien dit nuwe perspektiewe bied op die bestaanswêreld van Afrikaanssprekende Afrikane.”

Die argitek van die monument, Jan van Wijk, het sterk gevoel oor die natuur en daarom word hy vereer deur dié buiteluggalery waar sy as in ’n rots ingemessel is, omring deur inheemse olienhout en graniet. ʼn Uitstalling van veral opkomende Afrikaanse skrywers word elke paar maande in dié galery se uitstalkaste van herwonne hout en glas aangebied om hiermee op die monument se kulturele én natuurlike aspekte te fokus. Die INK-uitstalling sal tot Julie 2023 fisiek besigtig kan word, maar dit asook vorige uitstallings kan aanlyn by taalmuseum.co.za/groen-galery/ gesien word.

Deur vir ʼn gratis profiel op ink.org.za te registreer het gaste onbeperkte toegang tot hul biblioteek- en opleidingsafdelings, wat as ‘n tipe gratis slypskool fungeer. Dit bied blootstelling danksy maandelikse projekte en ʼn aktiewe moderator wat praktiese en aansporende kommentaar op inskrywings lewer. Die huidige INK dig- en skryfkompetisie van 2023 sluit op 31 Mei 2023. Die internasionale museumraad (ICOM) vier sedert 1977 Internasionale Museumdag waardeur museums regoor die wêreld op of rondom 18 Mei die geleentheid gebruik om op skeppende wyses en deur spesiale aktiwiteite uiting te gee aan ’n bepaalde tema. Vanjaar se tema is ‘Museums, volhoubaarheid en welstand’. Meer by icom.museum/en/international-museum-day. Afrikadag word op 25 Mei gevier om die stigting van die Organisasie vir Afrika-eenheid (nou bekend as die Afrika-Unie) op 25 Mei 1963 te herdenk. Meer by au.int/en.

  • Vir meer inligting oor al die opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. Die bistro bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte; kontak hulle via diesuikerkan.co.za of 082 216 2510.