Groen Galery by Taalmonument spog met nuwe gedigte

Die Historium Trust in die Paarl was ʼn trotse borg van die digitale skeppende skryftuiste INK Skryf in Afrikaans se 2021 Skrywerskompetisie. Dit het einde verlede jaar ʼn hoogtepunt bereik met ʼn prestige gala-aand in Centurion waartydens pryse aan die wenners toegeken is. Nou word die top-inskrywings boonop in die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se Groen Galery uitgestal ter ere van Internasionale Moedertaaldag op 21 Februarie.

Ink.org.za is ʼn onafhanklike webtuiste – gemik op die bevordering van gehalte poësie en kortverhaalkuns in Afrikaans – waarop digters, skrywers en liriekskrywers hul werk kan publiseer. Volgens Anzé Bezuidenhout, die stigter van INK, het die organisasie verlede jaar veel groter skoene aantrek, want die inskrywings het behoorlik vanuit die land én buiteland ingestroom. “Ons beoordelaars moes bontstaan om die beste gedigte en stories te kies wat in die Inkspraak-, Inspraak Skoliere- en Inkspraak Kortverhale-bundels saamgevat moes word. Die prysoorhandiging was ook die bekendstelling van die bloemlesings Inkspraak 2 waartydens gaste hul eie eksemplaar kon aanskaf,” sê sy. Toekennings is aan onder andere Andries Fourie, Bertie Cloete, Karlie Lubbe, Johan van der Merwe, Pieter Mostert, Morne du Preez, Carmen Edwards, Etna Wepener, Elmarie Nienaber van Kampen, Olivia Lubbe, Jenna Wilkinson en Twana Nel gedoen.

Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, is die missie van hierdie lewende instelling om onder meer die ryke diversiteit van Afrikaans se ontstaansgeskiedenis asook haar moderne gedaantes te vier. “Die meeste besoekers is nie net baie geïnteresseerd in die geskiedenis van Afrikaans nie, maar ook nuuskierig oor die taal se ontwikkeling en haar jongste skeppende gedaantes aangesien dit nuwe perspektiewe bied op die bestaanswêreld van Afrikaanssprekende Afrikane.”

Die argitek van die monument, Jan van Wijk, het sterk gevoel oor die natuur en daarom word hy vereer deur dié buiteluggalery waar sy as in ’n rots ingemessel is, omring deur inheemse olienhout en graniet. ʼn Uitstalling van veral opkomende Afrikaanse skrywers word elke paar maande in dié galery se uitstalkaste van herwonne hout en glas aangebied om hiermee op die monument se kulturele én natuurlike aspekte te fokus. Die INK-uitstalling sal tot April fisiek besoek kan word, maar dit asook vorige uitstallings kan aanlyn by taalmuseum.co.za/groen-galery/ gesien word.

Deur vir ʼn gratis profiel op ink.org.za te registreer, het gaste onbeperkte toegang tot hul biblioteek- en opleidingsafdelings, wat as ʼn tipe gratis slypskool fungeer. Ander lidmaatskapopsies is ook beskikbaar om deel te vorm ʼn uitstaande platform waar woorde vlerke kry; tans behels die kategorieë algemeen/gorrel, artikels, gedigte, rubrieke, musiek & liriek, liegstories en verhale. Dit bied blootstelling danksy maandelikse projekte en ʼn aktiewe moderator wat praktiese en aansporende kommentaar op inskrywings lewer. Kompetisies word ook gehou waardeur toekennings vir die beste bydraes in die kategorieë gedoen word.

Die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) het Internasionale Moedertaaldag van stapel gestuur om erkenning te gee aan die feit dat tale en veeltaligheid insluiting kan bevorder. Vanjaar is die beroep aan beleidmakers, opvoeders en onderwysers, ouers en gesinne om hul verbintenis tot veeltalige onderwys en insluiting in onderwys te verskerp, ook om sodoende die herstel van onderwys in die konteks van Covid-19 te bevorder. Hierdie poging dra ook by tot die VN se Internasionale Dekade van Inheemse Tale (2022-2032), waarvoor Unesco die hoofagentskap is, en wat veeltaligheid in die hart van inheemse volkere se ontwikkeling plaas. Meer by un.org/en/observances/mother-language-day.

Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. DIE TAALMONUMENT, TAALMUSEUM EN KOFFIEWINKEL IS OOP VIR BESOEKERS. Jaarpermitte kos R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.