Taalmonument se 45ste jaar spring weg met KZN leerders se digkuns

Op dae wanneer ons doodbang is, laat ons obafana staan.
Hy skiet bliksemstrale en rommel dan.
Weerspieël dit terug in die lug,
omdat hy te bang is om man tot man te veg.
       –    Amandiso Diko

Om op ʼn skeppende noot mee weg te spring vir die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se 45ste bestaansjaar in 2020 is die instelling verheug om die werke van Grondwoorde 2019 se wenners in die Groen Galery uit te stal. Hierdie digkompetisie vir hoërskoolleerders in KwaZulu-Natal lok veral nie-moedertaalsprekers en het sedert 2016 so vinnig gegroei dat dit nou in ’n junior en senior afdeling verdeel is.

Volgens Michael Jonas, ATM direkteur, is die instelling ʼn lewende monument waar daar gedurig ʼn interaksie tussen die struktuur, natuur, besoekers en taalskeppers is. “Ons gee graag aan opkomende skrywers, musikante en digters die kans om hul werk aan ʼn groter gehoor bloot te stel. Die meeste besoekers is nie net baie geïnteresseerd in die geskiedenis van Afrikaans nie, maar ook nuuskierig oor die taal se ontwikkeling en haar jongste skeppende gedaantes aangesien dit nuwe perspektiewe bied op die bestaanswêreld van Afrikaanssprekende Afrikane.”

Grondwoorde se organiseerder, Wouter Gildenhuys, sê die doel van die kompetisie is om Afrikaans te bevorder, aspirantdigters te ondersteun en om brûe tussen leerders van meer diverse groepe te bou. Om in te skryf, moes leerders drie gedigte oor Gandhi, grond en Zoeloe mites/volksverhale instuur. Die algehele senior-wenner was Amandiso Diko van Ganges Sekondêre Skool (met naaswenners Zen Olivier en Alaika Seepye) en die algehele junior-wenner Tiana Maritz van Hoërskool Pionier (met naaswenners Diva Luckan en Tinkie Zaayman). Nikita Perumal, Michaela Claassen, Jessica Janse van Vuuren, Thinus Bester, Tasme Ramsamooj en Annetjie van der Merwe het die ander pryse verower. Die werke van die wenners asook van talle ander deelnemers, is in ʼn digbundel opgeneem wat te koop is.

Die argitek van die monument, Jan van Wijk, het sterk gevoel oor die natuur en daarom word hy vereer deur dié buiteluggalery waar sy as in ’n rots ingemessel is, knus omring deur inheemse olienhout en graniet. ʼn Uitstalling van verskeie opkomende Afrikaanse skrywers word elke paar maande in dié galery se uitstalkaste van herwonne hout en glas aangebied om hiermee op die monument se kulturele én natuurlike aspekte te fokus. Sien www.taalmuseum.co.za/groen-galery/ vir die jongste en vorige uitstallings.

Die publiek kan Grondwoorde se uitstalling vanaf 2 Januarie 2020 vir ʼn paar maande besigtig. Die monument, wat ook die beginpunt van die Paarl se Boomroete is, is daagliks oop van 08:00 tot 17:00. Toegang is R40 vir volwassenes, R10 vir SA studente/pensionarisse en R5 vir kinders (gratis onder ses jaar). Oudiogidse in verskeie tale asook gratis begeleide toere is beskikbaar en die monument bied ook ’n speelpark vir kinders, staproetes en ’n heerlike restaurant.

Vir navrae oor die monument of om meer te wete te kom oor die talle gewilde geleenthede en afslagpryse, ook rakende die ATM se 45-jarige feesvieringe, besoek www.taalmonument.co.za of hul Facebookblad. Kontak die ATM op 021 863 0543/ 872 3441 of stuur ʼn e-pos na admin@taalmuseum.co.za. Meer oor Grondwoorde en die digbundels kan via Facebook ‘grondwoorde’ gevind word of stuur ʼn e-pos aan gildenhuys.wouter@gmail.com.