Die Groen Galery is ‘n nuwe opelug-galery by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl. Die galery is geleë in ‘n intieme deel van die tuin, agter die monument. ‘n Nuwe uitstalling sal elke ses maande in die galery se uitstalkaste van herwonne hout en glas aangebied word. Lees verder.

 

 


Laai al die gedigte af in ‘n PDF-dokument.

Die eerste uitstalling getiteld “12 digters” bevat gedigte deur bekende digters. Dit word aangebied in vennootskap met die Breytenbach Sentrum op Wellington, wat reeds in 2012 ‘n Digterstuin en ‘n jaarlikse Tuin van Digters-fees begin het. Die gedigte handel nie noodwendig almal oor natuur of landskap nie, maar pas wel in by die “Groen” tema, wat op vernuwing sinspeel. Sommige van die gedigte is spesiaal vir die uitstalling geskryf.

Die deelnemende digters is Adam Small, Breyten Breytenbach, Carina Stander, Clinton V du Plessis, Diana Ferrus, Hemelbesem, Koos Kombuis, Johann Lodewyk Marais, Louis Esterhuizen, Marius Titus, Marlise Joubert en Stef Bos.

  • Breyten Breytenbach, wie se ongepubliseerde vers “soos asem” ingesluit is, sê hy is bly dat die konsep van Tuin van Digters hiermee uitbrei, en dat elke dorp eintlik so iets behoort te hê.
  • ”Afrikaanse tuin wat kan transponeer/sigbaar, vernuwend, wat soms herdefinieer” is die beginstrofes van Marius Titus se gedig, “Tuin van die Digters”, wat hy spesiaal vir die uitstalling geskryf het.
  • Adam Small se gedig “Liefling, ek sal jou gewis oneindig mis” is ‘n nuwejaarsvers vir sy vrou Rosalie en sluit haar antwoord daarop in. Small sê: “Dit kan daarin gelees word dat die andersheid (die nuwigheid, alhoewel voorlopig) in Rosalie se antwoord op my woorde opgesluit is.”
  • “Gelofteland” is Koos Kombuis se gunsteling gedig uit sy digitale digbundel “rock&roll.karoo”, waaroor hy sê: “Dit was asof ek ’n versoening wou soek tussen ons moderne kuberbestaan en die ou dinge, die dinge van toeka se tyd, die lewe van plaas-opstalle en ramkiekies.”
  • Carina Stander se gedig “Groen vingers” sluit ‘n meegaande inkskets deur dié kunstenaar-skrywer in.
  • “Dis digkuns wat lewendig word” skryf Hemelbesem in sý gedig “Dis groener aan die ander kant”.
  • Marlise Joubert het haar gedig, “groei”, vir haar dogter, wat ver woon, geskryf toe sy haar laat weet het dat sy swanger is.
  • ‘n Nederlandse gedig van Stef Bos is ook ingesluit – hy “het besluit om nie in Afrikaans te skryf, maar om die broedertaal te hanteer, want ons is onlosmakelijk verbonden.”
  • Die uitstalling sluit ook twee nuwe, ongepubliseerde verse van Johann Lodewyk Marais (“Ongerepte aarde”) en Louis Esterhuizen (ongetiteld) in, asook “Antikwaar” deur Clinton V du Plessis en Diana Ferrus se “Afrikaans ‘n versoeningstaal”.