O koud is die windjie
             en skraal

Eugène Marais Groen Galery Taalmonument (3)

Elf van die digter Eugène N Marais se gedigte kan in die Groen Galery, die opelug-galery in die tuin van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl, gelees word. Dié nuwe uitstalling vier die nalatenskap van dié bekende skrywer, digter, joernalis en natuurnavorser en kan tot Julie 2017 besigtig word.

Die galery is geleë in ‘n intieme deel van die tuin, agter die monument. Die gedigte is op groot panele gedruk wat in rame van herwonne hout en glas uitgestal word, in pas met die “groen” tema, wat op vernuwing sinspeel.

Die 11 gedigte – agt Afrikaans en drie Engels – is “Winternag”, “Die dans van die reën”, “Skoppensboer”, “Lalasini”, “Sonder betaling”, “Die oorwinnaars”, “Die spinnerak-rokkie”, “Di meisies”, “Ode, Addressed to the Paarl Composed on Paarl Mountain”, “Anglified Africanders” en “Love”.

Eugène Marais Groen Galery Taalmonument (9)

“Winternag” word beskou as die eerste letterkundig betekenisvolle Afrikaanse gedig en is aangewys as die gewildste Afrikaanse gedig nóg. Die drie Engelse gedigte het Marais geskryf terwyl hy tussen 1884 en 1887 in die Paarl Public School for Boys, vandag die Hoër Jongenskool Paarl, was.

Die uitstalling word aangebied in vennootskap met die Eugène Marais Stigting in die Paarl, ’n organisasie sonder winsbejag met die doel om die lewe van Marais op ’n interaktiewe en opvoedkundige wyse te omsluit en aan ’n diverse gemeenskap bekend te stel. Die stigting wil op ’n hedendaagse wyse betekenis gee aan die herbeoordeling van Marais se prestasies en bedrywighede. Dit word gedoen op en van die gerehabiliteerde skool- en koshuisgeboue van die ou Paarl Public School for Boys.

eugene-marais-groen-galery-taalmonument-finale-inligtingspaneel

Die monument is daagliks oop van 08:00 tot 17:00 (20:00 van Desember tot Maart). Toegang is R25 vir volwassenes, R10 vir SA studente en R5 vir kinders (gratis onder ses jaar). Volwassenes wat vooraf by Volksmond Koffiewinkel bespreek, betaal slegs R10. Vir navrae, skakel tel 021 863 0543/2 of stuur ‘n e-pos na admin@taalmonument.co.za.  Besoek www.taalmonument.co.za of
www.eugene-marais.org.za vir meer inligting.

Die derde van die Eugène Marais Stigting se reeks “In Gesprek met Eugène Marais” word op Donderdag 22 September 2016 by die Taalmonument aangebied. Die joernalis Jean Oosthuizen sal met die digter Lina Spies oor digkuns gesels.  Sitplek is beperk en kaartjies teen R80 is vooraf beskikbaar by francois@eugene-marais.org.za of 083 408 1902.