weeder plakkaat 6

12 genesende gedigte tussen graniet en olien
Afrikaans se bydrae tot heling belig by Paarlse fees

Ko luister mooi oe wat ek hie’ wil se
innie taal diepe as’ie suiwe sous
oppie boe’jong se tong… (uit ‘Boeta Vee Ko Priek’ van Michael Weeder)

Die Afrikaanse Taalmonument is op 22 September die gasheer van die amptelike loodsing van ’n internasionale fees gemik op die genesing van herinneringe. Boonop sal ‘n dosyn van eerwaarde Michael Weeder se gedigte in die monument se Groen Galery onthul word om saam te val met die geleentheid. Die ‘One World Festival of Healing‘ wat van 23 tot 24 September in die Paarl Arboretum langs die Bergrivier plaasvind, maak onder meer gebruik van die helende kragte van die natuur en musiek om as opbouende uitlaatkleppe vir traumatiese herinneringe te dien. As deel van die fees, gaan Afrikaans se diverse geskiedenis ook met die besoekers en deelnemers uit 15 lande oor die twee dae gedeel word.

Weeder (59), wat grootgeword het in Kaapstad, is onder meer ‘n filmmaker, skrywer, priester en ‘n stigterslid van December 1st, die sosiale beweging wat fokus op die herinneringe en nalatenskap van slawerny. Dit is dus gepas dat sy gedigte in die Groen Galery, ‘n opelug-galery tussen die pragtige inheemse bome op Paarlberg, uitgestal word aangesien dit nuwe perspektiewe bied op die bestaanswêreld van talle Afrikaanssprekende Afrikane. ‘n Uitstalling van verskillende Afrikaanse skrywers word elke ses maande in dié galery se uitstalkaste van herwonne hout en glas aangebied om hiermee op die monument se kulturele én natuurlike aspekte te fokus.

Weeder is ook ‘n deelnemer aan die ‘One World Festival of Healing’, aangebied deur Camissa Solutions en die Institute for the Healing of Memories, wat ‘n globale gemeenskap lok om diversiteit te vier. Die Paarl Arboretum is ‘n 31 hektaar groen long langs die Bergrivier wat onderverdeel is in al die vastelande van die wêreld, met 2 600 bome en struike gegroepeer volgens hul vasteland van herkoms. Die lenteblomme is op sigself ‘n natuurlike skouspel, maar voeg daarby musiek, poësie, ‘n holistiese kermis, origami, joga, pretrit en Zumba en jy het ‘n fees gevul met heilsame aanbiedinge.

Die publiek kan Weeder se poësie uitstalling van 23 September 2017 tot 31 Januarie 2018 in die Groen Galery te siene kry. Die monument, wat ook die beginpunt van die Paarl se Boomroete is, is daagliks oop van 08:00 tot 17:00. Toegang is R30 vir volwassenes, R10 vir SA studente/pensionarisse en R5 vir kinders (gratis onder ses jaar). Vir navrae oor die monument of om meer te wete te kom oor die gewilde Volmaanpieknieks, Sterrekykpieknieks en konserte, skakel 021 863 4809/0543/2 of stuur ‘n e-pos na admin@taalmonument.co.za. Besoek www.taalmonument.co.za of www.facebook.com/afrikaansetaalmonument vir meer inligting.

Michael Weeder