Unieke Paarlse huis spog met toere, mark en kindervermaak op 21 Mei 2022

Ter ere van Internasionale Museumdag op 18 Mei 2022 bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) ʼn boeiende gratis program op Saterdag, 21 Mei, in die Paarlse middedorp aan. Met begeleide toere, unieke rieldansuitvoerings, ʼn mark asook kindervermaak en fotogeleentheid beloof die dag nie net pret nie, maar ook die kans om meer oor die omvattende geskiedenis van Afrikaans en die historiese Taalmuseum te wete te kom. Op 28 Mei vind daar boonop ʼn paneelbespreking plaas om hierdie dag verder te herdenk.

Die internasionale museumraad (ICOM) vier sedert 1977 Internasionale Museumdag waardeur museums regoor die wêreld op of rondom 18 Mei die geleentheid gebruik om op skeppende wyses en deur spesiale aktiwiteite uiting te gee aan ’n bepaalde tema. Vanjaar se tema is “Die mag van museums” wat die kollig plaas op die potensiaal van museums om positiewe veranderinge in hul gemeenskappe teweeg te bring. Volhoubaarheid as deel van die Verenigde Nasies se ontwikkelingsdoelwitte, die mag van innoverende digitalisering en toegang asook die potensiaal om sterker gemeenskappe deur opvoeding te help skep is die drie fokuspunte vir vanjaar.

Om praktiese gestalte hieraan te gee, borg die ATM die vervoer en etes vir ʼn groep seniors van Sunfield, Wellington, en gratis toegang aan almal, sover as wat die tyd en ruimte dit toelaat. Die geleentheid is vanaf 09:00 tot 13:00 by Pastorielaan 11; gratis begeleide toere sal tussen 11:00 en 13:00 plaasvind. Hiertydens sal besoekers meer oor die huis se geskiedenis, die Genootskap vir Regte Afrikaners, Arabies-Afrikaans en die ontwikkeling van die taal, van toeka tot in die toekoms, leer.

Buite sal ʼn springkasteel die kinders vermaak en sal die mark in besoekers se spys- en drankbehoeftes voorsien; kurio’s sal ook te koop wees. Boonop sal ʼn groot fotoraam voor die museum staan waar mense foto’s van hulself kan laat neem en dadelik ontvang teen slegs R30.

Om Internasionale Museumdag verder te vier, sal daar ook ʼn gratis paneelgesprek op 28 Mei 2022 gehou word waar die betekenis van museums en instellings se naamsveranderinge onder die loep sal kom. Hierdie geleentheid vanaf 09:00 tot 13:00 is ook gratis en besoekers sal boonop met gebak, drinkgoed en ʼn middagete getrakteer word. Voornemende gaste moet vooraf via 021 872 3441 of bemarking2@taalmuseum.co.za ʼn plek bespreek. Die deelnemers en ander besonderhede sal eersdaags op die webtuiste en sosiale media verskyn. Sien intussen icom.museum/en/ vir meer oor ICOM.

Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. DIE TAALMONUMENT, TAALMUSEUM EN KOFFIEWINKEL IS OOP VIR BESOEKERS. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.