Ghellie-klets Taalmuseum Storievertelfees 22 Sep 2015

Kom sit om die ghellie-blik saam met bobaas-storievertellers wat ‘n hond uit ‘n bos gesels: Só lui die uitnodiging na Ghellie-klets, een van meer as 20 geleenthede op die program van die tweede jaarlikse Storievertelfees, van 19 tot 26 September 2015 in die Paarl en omgewing.

Die Storievertelfees word aangebied deur Radio KC, in samewerking met Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument en Koinonia en ander gemeenskapsorganisasies wat hulle vir erfenis en kultuur beywer. Tydens dié fees deel en boekstaaf inwoners hulle unieke stories in woorde en dade op verskillende platforms as deel van ’n besondere poging om van mekaar, en by mekaar, oor mekaar te leer en ander daarvan te vertel.

Ghellie-klets vind op Dinsdag 22 September om 18:30 by Stumps, Boland Krieketstadion, Langenhovenlaan, Paarl plaas. Dit word aangebied deur die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM).

Volgens Isabeau Botha, kommunikasiebestuurder van die ATM, is die naam Ghellie-klets deur die rymkletser Hemelbesem, een van die deelnemers aan die aand, geskep. Ander deelnemers is die Paarlse skrywer en avonturier Johan Bakkes as seremoniemeester, die Paarl se eie rugby-legende Peter de Villiers, die bekroonde Paarlse rymkletser Ben 10, die plaaslike skrywer Gaireyah Fredericks, reisskrywer Gerrit Rautenbach en die musikante Riku Lätti, Churchil en Loit Sôls.

“Ghellie-klets is die perfekte naam vir dié informele saamgesels van alle soorte storievertellers – bekend én minder bekend – uit ‘n verskeidenheid genres,” sé Botha. “Almal wat lief is vir stories, is welkom om saam om die ghellie-blik te kom kuier – daar sal ook geleentheid wees vir ‘n storie of twee vanuit die gehoor.”

Bywoning is gratis, maar bespreking is noodsaaklik. Bespreek teen Vrydag 25 September by Amira Clayton by tel 021 863 0543/2 of kommunikasie@taalmonument.co.za. Besoek www.taalmonument.co.za of www.storievertelfees.co.za vir meer inligting.