Taalmonument en Haarhoff bied plesierige werkswinkel vir beginner fotograwe

Vir diegene wat wens dat hulle onvergeetlike oomblikke en tonele pragtiger kan verewig, bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl ʼn werkswinkel op Donderdag, 26 November 2020, met fotografie-afrigter Peter Haarhoff aan.

As jy wil ophou om jou kamera op “outomaties” te gebruik en nie tyd vir ‘n lang fotografiekursus het nie, is hierdie genotvolle eendagkursus ideaal. Dit is ‘n praktiese, tweetalige program wat beteken dat jy dit wat jy geleer het, onmiddellik onder die wakende oog van jou dosent en foto-afrigter kan beoefen. Teorie vind in die klaskamer plaas waarna almal gaan oefen hoe om fantastiese foto’s van die mens, natuur en struktuur by die skilderagtige monument te neem.

Die volgende aspekte sal belig word:

Neem beheer oor jou DSLR-kamera;

Hoe om program- en handmatige opsies te gebruik;

Hoe die lensopening die velddiepte beheer;

Stel jou sluiterspoed in vir waarlik skeppende fotografie;

Witbalans en ISO-instellings;

Flitsfotografie en beligtingskompensasie;

Filters en sosiale media soos Instagram; en

Hoe om beter foto’s op te stel en nog baie meer.

Leer dit dus alles binne slegs een dag tydens die werkswinkel wat in die konferensielokaal van die Taalmonument in Gabbema Doordriftstraat op Paarlberg vanaf 09:00 tot 16:00 plaasvind. Dit kos net R250 per persoon, wat ʼn gratis besoek aan die monument asook koffie/tee, soetgoed en ʼn heerlike middagete insluit.

Deelnemers moet hul eie DSLR-kamera of enige kamera met handmatige beheer (manual control) bring – geen selfoonkameras nie. Plekke is beperk, dus bespreek asseblief vroegtydig by Jeffrey Pietersen op 021 872 3441 of bemarking2@taalmuseum.co.za om deelname te verseker.

Naas opwindende musiek- en ander geleenthede, bied die ATM jaarliks ʼn reeks kursusse en werkswinkels aan wat op die ontwikkeling van basiese vakkundige vaardighede fokus. Voorstelle vir bykomende werkswinkels word verwelkom. Sien www.taalmonument.co.za vir meer hieroor asook die instelling se 45ste verjaardagvierings, en volg hulle op Facebook, Twitter en Instagram. Meer oor Peter Haarhoff by www.flickr.com/people/peterhaarhoff/