Erfenisdag-fokus op kruie Taalmuseum 2015

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl bied op 24 September in samewerking met Montagu Museum ‘n spesiale Fokus op Kruie ter viering van Erfenisdag aan. Dié twee museums werk reeds die afgelope twee jaar saam aan ‘n projek oor die belangrikheid van kruie as kultuur- en natuurhistoriese erfenis.

“As deel van ons projek het ons gesprekke rondom verskillende fasette van kruie met kenners in die Langebergstreek gevoer. Staaltjies, gebruike en rate is opgeteken, en alle bevindings is gedokumenteer,” sê Janine Brown, opvoedkundige beampte van die ATM.

‘n Boekie met dié inligting word op Erfenisdag, Donderdag 24 September 2015, bekend gestel. ‘n Spesiale program word van 10:00 tot 12:30 in die Historium Konferensiesentrum langs die Afrikaanse Taalmuseum in Pastorielaan aangebied. Bywoning is gratis, maar bespreking voor of op Vrydag 11 September 2015 is noodsaaklik. Die program sluit vermaak en ligte verversings in. Bespreek by Janine Brown by tel 021 872 3441 of e-pos opvoeding@taalmuseum.co.za.

Die boekie sal by die onderskeie museums en plaaslike biblioteke beskikbaar wees, asook op die ATM se webwerf.