sterrekyk20162017mrt earth hour

Sterrekykgeesdriftiges moenie die laaste Sterrekykpiekniek van die seisoen by die Afrikaanse Taalmonument op Paarlberg op Saterdag 25 Maart 2017, ter viering van “Earth Hour”, misloop nie. Tydens dié pieknieks kan besoekers die sterrehemel verken met die hulp van die Orion Observasie Groep (OOG), ‘n informele sterrrekundeklub van die Boland.

Earth Hour is ‘n jaarlikse, wêreldwye byeenkoms wat deur die Wêreldnatuurfonds  van stapel gestuur is om mense aan te moedig om hul ligte een uur lank op hierdie aand af te skakel, om mense sodoende bewus te maak van hul impak op ons omgewing.

Die tema van die aand is “Jupiter klop van vroeg tot laat”. Die piekniek begin om 18:00. ‘n Begeleide toer van die Monument word om 18:30 aangebied. Besoekers kan van 20:00 tot 22:30 onder leiding van lede van OOG deur teleskope na die sterre kyk.

Besoekers is welkom om hul eie piekniekmandjies saam te bring of een (teen R250 vir twee persone, of R350 met ‘n mandjie ingesluit) by Volksmond Koffiewinkel te bestel (tel. 021 863 2800). Volksmond sal oop wees vir koffie en ligte verversings. Veilige parkering is beskikbaar en toegang word beheer. Besoekers word aangemoedig om verkykers en warm klere saam te bring. Rook is verbode op die grasperke.

Kaartjies kos R35 vir volwassenes en R10 vir kinders en is by Computicket beskikbaar. Kaartjies is ook by die hek beskikbaar, maar bespreking is noodsaaklik, sodat daar vir genoeg teleskope voorsiening gemaak kan word. Bespreek by tel. 021 863 0543/4809. Sterrekykpieknieks sal gekanselleer word indien die weer sleg is. Skakel 072 181 6744 vir weernavrae.

Die piekniekreeks word aangebied ten bate van Laat ons Lees!, die Taalmuseum se voorleesprojek vir kinders. Piekniekgangers word aangemoedig om ‘n nuwe of tweedehandse kinderboek saam te bring ter ondersteuning van dié projek.

Save