Fiona van Kerwel (WOW-projekbestuurder),
Elizabeth Dennise van Schalkwyk en prof Susan Smith
Die Raad van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) het op Erfenisdag die 2016 Neville Alexander-prestige-eerbewys aan drie medewenners, twee individue en een instelling, toegeken. Die wenners is Elizabeth Dennise van Schalkwyk, prof Susan Smith en die Woorde Open Wêrelde (WOW) projek van die Universiteit Stellenbosch (US) Woordfees.
Die Voorsitter van die ATM-Raad, prof Mashudu Mashige, het sertifikate aan Van Schalkwyk, prof Smith en Fiona van Kerwel, projekbestuurder van WOW, oorhandig. Elke wenner ontvang ook prysgeld van R10 000 vir ‘n relevante taalprojek.
Volgens Michael Jonas, Direkteur van die ATM, is die eerbewys ’n poging om erkenning aan die onbesonge helde van Afrikaans te gee en om taalprojekte te bevorder: “Alexander was ‘n bekroonde taalkundige, opvoedkundige en akademikus, wat hom sterk beywer het vir veeltaligheid en moedertaalonderrig in Suid-Afrika. Die eerbewys word toegeken aan ʼn geskikte kandidaat of instelling wat ʼn beduidende bydrae op voetsoolvlak in die gemeenskap gelewer het op enige gebied van Afrikaans as moedertaal of voorstander van veeltaligheid.”
Van Schalkwyk is ‘n prokureur van Johannesburg wat reeds sedert 2009 Afrikaans as tweede taal onder nie-Afrikaanssprekendes, waaronder buitelanders, bevorder. Sy spandeer sowat vyf uur per week om graad 12-leerders, wat met Afrikaans as tweede taal op skool sukkel, te ondersteun. Van Schalkwyk laat dié leerders kinderboeke lees, wat volgens haar “soos ʼn bom” werk om hul taalvaardighede te verbeter. Sy wil haar prysgeld gebruik om ʼn groter verskeidenheid Afrikaanse leesboeke en hulpbronne aan te koop.
Prof Smith is benoem vir haar toewyding tot die totstandkoming en uitbou van die Department Afrikaans aan die Universiteit van Fort Hare. Tertius Kapp skryf in sy motivering: “Bo en behalwe haar eie akademiese uitsette, wat behels vele vooraanstaande navorsingsartikels, veral in die nuwe veld van eko-kritiek, en haar eie digterlike werk, behartig sy ʼn enorme hoeveelheid administrasie en loods sy projekte wat op kreatiewe wyse die unieke uitdagings van haar direkte omgewing aanspreek. In ʼn tyd waar studente by vele tersiêre instellings negatief reageer op Afrikaans, is dit bewonderenswaardig dat Afrikaans by die Universiteit van Fort Hare nie net een van studente se gunsteling departemente is nie, maar ook deur personeel as ‘n broodnodige deel van die universiteit gesien word. Dit is ʼn direkte gevolg van Susan Smith en haar personeel se werk.”
Die Woorde Open Wêrelde (WOW) jaarprojek van die US Woordfees is gerig op woordvaardighede, lees, geletterdheid en die kunste, met Afrikaans as fokustaal. Naas ’n groot aantal WOW-aktiwiteite wat aangebied word tydens die jaarlikse US Woordfees word talle projekaksies deur die jaar aangebied, soos skrywersbesoeke aan skole, leeskringe, leesfeeste, skoolkoerante, debatfeeste, kuns en- kultuurfeeste, werkswinkels, kompetisies en veral die snelgroeiende nasionale Sanlam WOW Spelfees. ’n Belangrike fokus van die WOW-projek is om belowende leerders te identifiseer en hulle aan te moedig tot tersiêre studie, veral binne die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe.
Die medewenners van die eerste prestige-eerbewys, in 2015, was die fakulteit onderwys van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) in Wellington, en Sabina Dumas, opvoeder aan New Orleans Sekondêre Skool in die Paarl. KSUT het vier behoeftige Afrikaanse studente se klasfooie met hul prysgeld gedek. Dumas het ingeteken op Die Burger sodat 250 leerders dié koerant en susterkoerante digitaal kan lees. Sy het verder uitgawes vir verskeie projekte geborg, waaronder leerders se deelname aan die WOW-Spelfees en ‘n skoolkoerantkursus. Volgens Dumas het die toekenning verskeie deure vir haar leerders oopgemaak, “blootstelling wat baie meer as geld beteken”.
Vir navrae, kontak die Direkteur, Michael Jonas, by 021 872 3441 of admin@taalmuseum.co.za.