Taalmonument gasheer vir pret, gesellig eet en ʼn bietjie sweet

Gegewe die groeiende uitdaging om die lewensgehalte van pasiënte met lewensbedreigende siektes, asook hul gesinne, te verbeter, is daar eersdaags die kans om draf-draf (of stap-stap) geld in te samel vir die Drakenstein Palliatiewe Hospies. Boonop is talle kontantpryse op die spel wanneer die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), Historium Trust, Drakenstein Palliatiewe Hospies en Paarl Atletiekklub se pretbelaaide Aandwedloop op Woensdag, 11 DESEMBER 2024, op die beeldskone Paarlberg plaasvind.

Soos altyd kan deelnemers en ondersteuners staatmaak op die perfekte piekniek- en kuierplekke by die monument, waar tydelike uitstallings asook ’n avontuurlike speelgrond en buitelugspeletjies wink. Boonop kan almal hierdie ikoniese monument vir een van Afrika se jongste tale gratis verken en bewonder. Omskep dit in ’n heerlike aand: bring ʼn piekniekmandjie (geen glas) of bestel een vooraf by die Suikerkan op 082 216 2510 (WhatsApp). Dié bistro sal ook verversings en pizza te koop aanbied. Bring ʼn kombers/kussings en onthou ook warm klere en ʼn flits.

Die 10km-Aandwedloop, wat ingevolge die reëls van Atletiek Suid-Afrika en Boland Atletiek aangebied word, begin om 18:45 en volg ʼn opwindende, uitdagende roete op teer- en grondpaaie. Die gesellige 5km-Woordloop, wat om 19:00 begin, is gemik op die hele gesin – selfs stootwaentjies en stappers is welkom! Deelnemers skryf in met ’n prettige Afrikaanse woord in stede van ʼn nommer.

Draffooie: vir 10km tussen R100 en R180 en vir 5km R50 aanlyn via topevents.co.za voor 23:59 op 4 Desember. LET WEL DAT SLEGS AANLYNINSKRYWINGS AANVAAR WORD EN GEEN INSKRYWINGS HELAAS OP DIE DAG SELF KAN PLAASVIND NIE. GRATIS TOEGANG VIR ONDERSTEUNERS EN DEELNEMERS BO 70. Vir navrae oor die 10km-Aandwedloop, kontak Lucky Mokwena op lmokwena1@icloud.com of 084 826 5895; vir navrae oor die 5km-Woordloop, kontak Stefanie Rasztabiga via 021 872 3441 of kommunikasie@taalmuseum.co.za.

Meeste palliatiewe sorg in Suid-Afrika word deur privaatinstellings aangebied. Drakenstein Palliatiewe Hospies is egter as ’n nie-regeringsorganisasie in 1991 deur ‘n klein groep vrywilligers gestig om hierdie gemeenskapsdiens te verrig. Hulle versorg gemiddeld 250 pasiënte met lewensbedreigende siektes in hul huise en bedien die hele Drakenstein-distrik van Saron tot Simondium, insluitend al die dorpe, landelike gebiede en informele nedersettings. Hul sorgspan verseker dat pasiënte en hul gesinne van die beste gehalte palliatiewe sorg voorsien word en met waardigheid sterf. Die doel is om pyn en lyding te bestuur deur middel van vroeë identifikasie en deeglike assessering, en om ondersteuning te bied op ’n fisieke, psigososiale en geestelike vlak. Meer inligting by drakensteinhospice.org.za of 021 872 4060.

  • Vir meer inligting oor al die opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte. Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat onbeperkte toegang tot die museum, monument, tuine, speelparke, bistro en volmaanpieknieks insluit. Die bistro bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte; kontak hulle via diesuikerkan.co.za of 082 216 2510.